
En in hierdie geval die koning van afrigters.
Jimmy Stonehouse is een van die bestes in Suid-Afrika.
En dit is nie www.mobserver.co.za wat so sê nie, dit is die Bok wêreldbeker afrigter, Jake White.
White het Stonehouse ’n paar jaar gelede as een van die bestes in die land aangewys.
En www.mobserver.co.za kan na jare van beriggewing oor Stonehouse, vandat hy vir Suidoos-Transvaal hoërskole gespeel het, tot sy loopbaan as Puma afrigter, onomwonde getuig dat hy een van die bestes is.
Maar nou vra Stonehouse in ’n Facebook inskrywing onder die opskrif “Decisions Decisions” hoe is dit moontlik dat daar nie vir hom plek in Suid-Afrika is nie.
Stonehouse skryf:
“Word vroegoggend wakker en skielik, na ek al ’n geruime tyd daarvan bewus is, tref dit my waarheen nou. Skielik is my twee jaar kontrak in Japan in ’n oogwink verby. Wat ’n ongelooflike leerskool, great pelle, talentvolle spelers en ervaring.
Dis nie altyd maklik sonder familie, vriende en ja sonder jou land nie, jou taal, jou kos, jou mense. Ja baie sal sê gaan die geld is goed of ander sal sê gaan want op die oomblik in hierdie land is daar nie ’n toekoms nie…of…
“Gaan ek terug na ’n land waar, ek nie weet wat van rugby, my passie gaan word nie ’n land waar daar vir my in rugby geen toekoms is nie, of gaan ek terug en bou verder aan my besigheid. Maak ek ’n sukses van my restaurant, wat doen mens, laat vaar ek dit waarvoor ek lewe: RUGBY.
“Of sê ek dankie aan Toshiba wat my weer ’n twee jaar aanbod gemaak het om my droom te kan uitleef, klink sleg en ek sê dit met my tong in die kies, is ek regtig so swak dat daar in Suid-Afrika vir my geen pos is nie? Nogal hartseer ?!
“Wel, dis waar ek vandag is voor ’n keuse, ek weet die Liewe Vader sal my lei in my besluit, maar ai daar is darem net een Suid Afrika.
“Natasha Joubert se liedjie: “Dankie Here”
“Sê Dankie Here want ek leef my volle droom.
“Nie altyd maklik nie, hier is ’n paar spesiale oomblikke in Japan what a journey.
“So Decision time!”






