Swartes na Silverton
Dit sal verstaanbaar wees as Nashua Middelburg Rugbyklub die week met ’n paar bokshandskoene en slaansakke geoefen het.
Want buiten die fiksheidsvoordele wat boks inhou, kan ’n tikkie ekstra uhm slaankrag, as jy wil, die naweek handig te pas kom.
Die klub trek die naweek op na Pretoria vir hul tweede Assupolwedstryd van die jaar teen die Silwer Valke in Silverton.
Die laaste keer wat die Swartes in dié Pretoriase voorstad (wat ook die tuiste van onder andere Frank Opperman en Casper de Vries was) gespeel het, het daar ’n reuse geveg langs die veld uitgebreek.
Die skeidsregter het sake nie baie goed hanteer nie en het homself in die kleedkamers gaan toesluit. En al het die eindfluitjie daardie dag nie amptelik geblaas nie, sal Middelburg Saterdag loshande die geveg op die veld wil wen.
Hoewel die span teen Woensdagoggend nog nie amptelik gefinaliseer is nie, kan afrigter RW Smit ’n sterk groep tot sy beskikking hê. Volgens Smit behoort net Stoof van Dyk (flank) en Sam Gerber (senter) die wedstryd mis te loop.
Gerber het harsingskudding tydens verlede week se SA Legendes/Puma Legendes-kragmeting op Malelane opgedoen en behoort vir ’n ruk op die kantlyn te wees. Buiten sy ervaring en passie vir die klub en spel, sal sy teenwoordigheid veral op die aanval gemis word.
Die oud-ster van Bayonne in die Franse Top 14-liga het ’n driekuns van drieë in die Swartes se vorige Assupolstryd teen Korrektiewe Dienste gedruk.
Maar verder behoort al die oud-staatmakers terug te wees.
Volgens Smit was Danie Malan kookwater in Malelane verlede week, terwyl Johan van der Walt ook sy terugkeer tot die span kan maak. Dié veelsydige agterspeler het ook harsingskudding tydens die Hoëveld Sewes opgedoen.
Die Silwer Valke spog gereeld in Pretoriase koerante oor hul nuwe spanlede maar as Middelburg die dag op alle sillinders vuur, kan min dinge hul stuit.
Selfs nie eens ’n versteekte spanner in ’n kous nie.
• Afskoptye:
13:30: Tweede span
16:00: Eerste span.
Lees meer nuus op die Middelburg Observer webwerf en gaan “Like” ook ons Facebook volg ons ook op Twitter en Instagram
