Katgeveg in kwartfinaal
Die Steval Pumas het hul plek in die kwarteindstryd teen die Xerox Golden Lions in die SuperSport Rugby Uitdaagreeks bevestig, Saterdag op Emirates Airline Park.
Die Mpumalanga-span het die afgelope naweek met die Hino Valke afgereken (47-33) ten einde hul onoorwonne tuisrekord te behou. Die Xerox Lions is egter ’n perd van ander kleur.
Hulle het reeds twee keer die seisoen die Steval Pumas geklop, maar beide wedstryde was naelbyt-naby – die laaste ’n 35-25 oorwinning op die einste Emirates Airline Park.
Die Steval Puma afrigter, Brent Janse van Rensburg, het gesê dat die kwarteindstryd sy span sal aanspoor tot ’n beter vertoning teen die Johannesburgers hierdie naweek.
“Ek is seker die manne sal regstaan om hierdie keer hul spel na ’n nuwe vlak teen die Leeus te neem. Hulle sal altyd hul eie spel speel, teen ’n hoë tempo, en met goeie vaardigheidsvlakke. Hulle is altyd reg om in die kontak-situasie van die bal ontslae te raak. Hulle speel om drieë aan te teken, dis wat hulle doen, so ons sal moet speel om dit die hoof te bied,” het Janse van Rensburg gesê.
Hy het ook gesê die sleutel-aspek sal wees om die bal te vertraag, en om die afbreekpunt sterk te betwis.
“Ons sal poog om hul tempo by die afbreekpunt te vertraag. Ons moet bereid wees om hard te werk om hulle te bekamp. Teen die Bulle het hulle ’n drie gedruk na 14 fases, so hul vermoëns om hul balbesit deur etlike fases te verseker is baie goed.”
Janse van Rensburg het afgesluit deur weer eens op te merk dat die Steval Pumas hul eie balbesit sal moet beskerm, en meer geduld moet toon met hul besit.
• Die wedstryd skop Saterdag om 14:00 in Johannesburg af en word op SuperSport Select op kanaal 210 uitgesaai.
Pumas: Gerrit Smith, Jerome Pretorius, Henni Skorbinski, Ryan Nell, Ruwellyn Isbell, Kobus Marius, Emile Temperman, Carel Greeff, Nardus van der Walt, Francois Kleinhans, Hugo Klopper, Tazz Fuzani, Marné Coetzee, Marko Janse van Rensburg, Kwezi Mona. Plaasvervangers: Frank Hearne, Jacques Kotze, Jannie Stander, Lambert Groenewald, Reynier van Rooyen, Justin van Staden, Devon Williams.
• Die Leeus se span was nog nie bekend nie.
