Sport

Kies jou beste Suidoos span ooit

Wie was die beste Suidoos-Transvaal rugbyspan ooit? Onmoontlik om te kies!

Maklik om ’n lys saam te stel, want iewers gaan iemand ’n beter speler onthou.

Suidoos-Transvaal Rugby-unie vier Saterdag sy vyftigste bestaansjaar op Nelspruit. Die unie is in 1969 gestig.

Nadat rugby na 1995 professioneel geword het is die naam verander na Mpumalanga Rugby-unie en die span die Pumas.

Daar is ’n wêreldse verskil tussen ’n span wat twee keer per week geoefen het en uit klubspelers bestaan het, teen vandag se professionele opset met dieetkundiges, fisioterapeute, gimnasium en groot salarisse.

Lees ook: Suidoos en Pumas soek oudspelers

Boonop moes ’n speler soos Ben Putter en die Meintjies broers, Willie en Manie, Dinsdae en Donderdae al die pad van Nelspruit af ry vir ’n oefening.

Tydens my eerste toer saam met Suidoos-Transvaal na Welkom, om teen Noord-Vrystaat te speel, was daar hamburgers op die bus en geen betaling nie. Op pad terug het Polla Fourie opdrag gegee dat die hotel ’n paar kaste bier in die bus laai. Toe Robert Brand, die sekretaris, vra wie gaan daarvoor betaal het hy gesê: “Die unie”.

Om span te kies

Daar is posisies soos heelagter wat dit maklik is want daar is net een naam, Harry Muller. Maar dan skuif jy na vleuel. O genade, was Boerpens Strydom, Kobus Vorster, Dirk Pretorius, Kobus Ferreira, Hein Mentz, Basie Erwee, Kallie Grobler of Frank Sullivan die beste?  Hoe kies jy tussen Grobler en Pretorius wat albei die land se voorste driedrukkers was?

Senter en losskakel is nog moeiliker want daar is nie name wat uitstaan nie.

Tommy Symons was dalk oor sy beste toe hy hier beland het vanaf Transvaal maar hy was steeds skitterend en dan was daar Lood Grobler, Sybrand Botes, George Minnaar, Hendrik Crafford, Chris Botha, Steve Meyer, Willie Meintjies en Wimpie van der Westhuizen.

Lees ook: Die drie reisende joernaliste

Wie van Koos Nel, Gerard de Haas, Hendrik Koekemoer of Gert la Grange was die beste losskakel?

Op skrumskakel sal daar vuis geslaan word want Rupert Hector het sy ondersteuners gehad maar daar was ook ander sterre soos Mike Crossman, Faf van Rooyen, Koos Coetzee, Hennie van der Spuy, Klasie la Grange, Butch van Wyk en Louis Peitersen.

Wanneer agsteman ter sprake kom moet jy die Bok Lofty Nel kies maar wat maak jy met Martin van Eeden, Jan Taljaard, Anton van der Merwe, Hendry van Tonder en Menanteau Serfontein?

Dieselfde kan van flank gesê word want jy het die Springbok Polla Fourie maar daar was ook Francois Rossouw, Leon Stapelberg, Piet Craven, Piet Cloete, Kat Smit, Kevin Schlachter, Terence Moll, Jorrie Jordaan en Hennie Venter.

Lees ook: Rupert Hector was ’n briljante skrumskakel

Net wanneer jy dink dit raak makliker het jy nog ’n Springbok op slot met die oud Middelburg plaasboer Johan Spies, sy slotmaat was Ben Badenhorst. In daardie wedstryd teen Noord-Vrystaat het hulle 25 balle gewen en die Perstruie net vier! Maar wat dan van Ben Harber, Johan Otto, Daan Badenhorst, Kleintjie Venter en die kombinasie van Vleis van Zyl en Bertus van Eeden?

Op haker was Abrie van Wyk ’n derduiwel en Guy Queck en Johan de la Rey was ook goeie hakers. Richard Cooke was nie ’n Van Wyk in die vastelos nie maar meer betroubaar kon jy nie kry nie en hoeveel vaskoppe het hy nou weer teen Springbok Willie Kahts gehaak? Tien teen een? Die huidige Puma afrigter, Jimmy Stonehouse, sou ook geen span in die steek laat nie.

Lees ook: Wat het van Frank Sullivan geword?

Daar was ’n hele paar ysters wat op voorry gesak het met Fanie Vermaak die kragman en ouens wat soos vleuels kon hardloop met die name van Piet Lodder, Jan Loubser en Jerry van Rooyen wat opduik. Maar wat van nog sterke derduiwels soos Nan Broekman of Jaco Espag? En net wanneer jy wil kies duik die naam van Hennie Coetzee op. Dalk nie so sterk nie, maar so slim. ’n Uitgeslape voorry en skitterende kaptein.

Die span kies maak mens moeg en jy kry weer respek vir die keurders wie jy so dikwels gekritiseer het. Skuus!

Maar wie kies jy as kaptein? Hennie Coetzee? Maar wat dan van Martin van Eeden, Rupert Hector, Polla Fourie, Menanteau Serfontein, Lofty Nel en Richard Cooke?

Lees ook: Die aand toe Naas opdaag

O wéé, net toe jy die span wil neerpen onthou jy China Vorster se naam. Harry Muller het die mantel by hom oorgeneem maar hy was ook ’n puik heelagter.
En as enigste lid van die keurkomitee kry jy nie gekies tussen Fanie Vermaak en Jerry van Rooyen op vaskop nie.

Nou goed, kom ons kies. As jy nie saamstem nie, hierdie is jou geleentheid om saam te kies. Stuur jou gunsteling span na tobie@mobserver.co.za of WhatsApp hom na 072 2201 568.

Nou goed, hier is hy, my beste span, gooi maar die klippe:

Harry Muller, Boerpens Strydom, Tommy Symons, Chris Botha, Kallie Grobler, Koos Nel, Rupert Hector, Lofty Nel (k), Polla Fourie, Terence Moll, Johan Spies, Daan Badenhorst, Fanie Vermaak, Richard Cooke, Jan Loubser. Plaasvervangers: Louis Peitersen, Gert la Grange, Dirk Pretorius, Jerry van Rooyen, Hennie Coetzee, Abrie van Wyk, Hendry van Tonder.

Lees ook: Oudspelers groet Fanie Vermaak

•Om die vyftig jaar te vier, word daar op 3 Augustus ’n reünie op Nelspruit gehou, wanneer die Pumas en Haaie in ’n Curriebeker wedstryd kragte meet.

Daar word na oudspelers en beamptes gesoek.

Spelers kan die kaptein van die 1983 span wat die Westelike Provinsie op Witbank in ’n Lionbeker wedstryd geklop het, Richard Cooke, by 083 263 6938 kontak of Tobie van den Bergh by 072 220 1568, tobie@mobserver.co.za. Arrie Myburgh, wat vele wedstryde vir die Blesbokke, Suidoos se B-span, uitgedraf het, help met die reëlings. Sy kontakbesonderhede is 082 786 5894 of arriemyburgh@gmail.com of Gert la Grange, losskakel van die 1983 span by 083 702 5163.

 

 

Lees ook:

Pappa aap dink ‘mammegaai’ is ‘n vrytjie

Stoffbergpad eis nog ‘n lewe

KYK: Spoke laat prostitute en inbrekers vlug

Net R500 borg vir vermeende plaasaanvallers

 

 

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button