Sport

Kat Smit, Kevin de Klerk en die Mercedes wat flenters geduik is

Wie was die voorste appelswaaier in Suidoos-Transvaal rugby se geskiedenis?

Een naam duik dadelik op: Kat Smit.

Wanneer jy die naam Kat Smit in die tagtigerjare genoem het, het rugbyliefhebbers geweet hy speel nie net flank vir Suidoos nie.
Maar daar was verskeie ander kandidate in hierdie rof en onbeskofte tye.

Die Suidoos-Transvaal agsteman en kaptein, Menanteau Serfontein, het op ’n keer gesê hy het gedink die Oostelike Provinsie se klubrugby was wild, totdat hy op Witbank beland het.
So erg het dit gegaan dat skeidsregters geweier het om in klubwedstryde op te tree.

Lees ook: Kies jou beste Suidoos span ooit

Een man wat nie spelers se nonsens gevat het nie was skeidsregter Salie Pienaar. Tydens ’n wedstryd tussen Witbank en Belfast, het die Springbok flank, Polla Fourie, vir Pienaar gevloek. Hy het ’n strafskop op die middellyn toegeken. Fourie het hom weer gevloek: Strafdrie. Na die afskop is Pienaar weer gevloek: Strafskop op die middellyn. Weer ’n vloekery: Strafdrie! Na die derde strafdrie het Fourie nie weer gevloek nie. Witbank het steeds die wedstryd verloor.

Een van Fourie se berugte spanmaats was Willem Smit. Wedstryde by die “langbome”, soos Belfast se veld bekend gestaan het, was oorlog. Tydens ’n kragmeting tussen dieselfde klubspanne het Smit die vleuel, Boerpens Strydom, op die grond getrap. Die flank, Terence Moll, wat die helfte van Smit se lengte was, het soos ’n verwoede bul op hom afgestorm, arms al swaaiende. Twee tandmerke in sy vuis, wys vandag nog waar die groot slot se tande in is.

Lees ook: Suidoos en Pumas soek oudspelers

Moll was ook in ’n wedstryd tussen Witbank en Alberton moeg dat die slot, Kevin de Klerk, elke bal by sy spanmaat, Vleis van Zyl, vat. Hy het langs De Klerk gaan stelling inneem, met die flank Tonie van Tonder, agter hom. Dit was soos Dawid teen Goliat. Moll het Van Tonder gesmeek: “Bring hom af dat ek hom kan bykom, bring hom af…”.

’n Man waarmee daar nie gesukkel is nie, was die Witbank flank, Simon van Niekerk. Middelburg en Witbank het mekaar op die Kees Taljaard Stadion gepak, toe die jong skrumskakel, Poerie van Rooyen, ’n vinnige tikskoppie wou vat, tydens ’n kwartlyn afskop. Van Niekerk het op hom afgestorm met ’n kyk wat sê “met die aarde gelyk maak”.

Losskakel Leon van den Berg het gesien wat kom en Van Niekerk gepootjie. Hy het oor die harde veld geskuur dat die stof staan. Toe hy opstaan was daar moord in sy oë. Van den Berg het die hasepad gekies met Van Niekerk agterna. Die jaagtog het al om die veld voortgeduur, met die toeskouers wat gelê het soos hulle lag. ’n Moeë Van Niekerk het later die aftog geblaas.

Lees ook: Die drie reisende joernaliste

Op dieselfde veld het skeidsregter Gert Meyer genoeg gehad van die tweede spanne van Middelburg en Ferrometals se agttalle wat aanhou baklei het. Hy het net daar al sestien voorspelers afgejaag. Hierna het ’n komiese oomblik gevolg. Die skrumskakel wou nie op voorry sak nie, die vleuel het gesê hy speel nie haker nie en die senters wou ook nie skrum nie.

Nadat die agterlyne nie kon besluit wie is die voorspelers nie, is die wedstryd afgelas.

Daar kan lank gestry word oor die vuilste geveg ooit. Tonele soos die in 1974 tussen Suidoos-Transvaal en die Franse span Tarbais op die Johan van Riebeeck stadion sal nie gou weer gesien word nie. Die vuiste het geklap en die Franse het soos kapokhane in die lug gespring om die Suidoos spelers te skop. Slot Ben Badenhorst het later vertel, toe die geveg bedaar, het hy met die stuk van ’n Fransman se baard in sy hand gestaan!

Lees ook: Rupert Hector was ’n briljante skrumskakel

Daar was ook spelers wat ’n skeidsregter se nagmerrie was soos die Witbank voorry, Fanie Vermaak. Hy het koerantmanne se kamera’s weggesteek, of tydens wedstryde spelers se broeke in losskrums afgetrek. Witbank en Standerton het in ’n ligawedstryd gespeel, toe hy Frik Jacobs se beslissings aanhoudend bevraagteken. Jacobs het vir hom die fluitjie gegee en gevra:

“Wil jy blaas?” Vermaak was nie links nie, het die fluitjie gevat en beveel: “Strafskop vir Witbank!”

Lees ook: Wat het van Frank Sullivan geword?

Maar daar was nie net beserings in gevegte nie. Somtyds het spelers hulself op rare wyse beseer. Die haker van Belfast, Jacques de Wet, het in ’n wedstryd teen Amersfoort in 1991 soos ’n besetene gespeel en by losskrums ingeduik. Op ’n keer het die Belfast slot, Trichardt Smit, saam met hom momentum opgebou op pad na ’n losskrum. Albei is bo-oor die losskrum, binne die Mercedes van suster Ria Smit van die Amersfoort Hospitaal in. Glasstukke het gespat.

De Wet het die hooflig flenters geduik en Smit het korte mette met die buffer gemaak.

Suster Smit was ook die dag die noodhulpbeampte en het bloed van De Wet se gesig afgespoel. Dit was eers toe dat hulle die snywond sien: Van sy ken af, al langs sy gesig op, tot net bokant sy oor. Meer as 43 steke was nodig om die wond toe te werk.

Die Mercedes het R4000 se skade gehad.

Lees ook: Die aand toe Naas opdaag

•Saterdagaand wanneer daar op Nelspruit fees gevier word om vyftig jaar van die rugby-unie se bestaan te gedenk, sal daar sekerlik nog vele meer sulke staaltjies wees.

Spelers en beamptes kan die kaptein van die 1983 span wat die Westelike Provinsie op Witbank in ’n Lionbeker wedstryd geklop het, Richard Cooke, by 083 263 6938 kontak of Tobie van den Bergh by 072 220 1568, tobie@mobserver.co.za. Arrie Myburgh, wat vele wedstryde vir die Blesbokke, Suidoos se B-span, uitgedraf het, help met die reëlings. Sy kontakbesonderhede is 082 786 5894 of arriemyburgh@gmail.com of Gert la Grange, losskakel van die 1983 span by 083 702 5163.

 

 

 

 

Lees ook:

Pappa aap dink ‘mammegaai’ is ‘n vrytjie

Stoffbergpad eis nog ‘n lewe

KYK: Spoke laat prostitute en inbrekers vlug

Net R500 borg vir vermeende plaasaanvallers

 

 

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button