Sport

Ons lag tot in Mbombela….

En daar staan Harry Muller Saterdagoggend. Die eerste speler wat honderd wedstryde vir Suidoos-Transvaal gespeel het. Grys trui met die varkoor (aronskelk) op, grys langbroek. Varkoor das. “Ek is so opgewonde, dit voel of ek my eerste wedstryd speel!” sê hy.

Dit lyk asof Harry op pad is om weer vir Suidoos uit te draf.

Ons ry saam met Leon “Die skoppende aanklaer” Nelspruit toe vir Suidoos-Transvaal Rugby-unie (Deesdae Mpumalanga Rugby-unie) se vyftigste verjaardag.
In die kar is ook die flank Tinus Groenewald en Gerrie Gerrits wat vir Middelburg losskakel gespeel het en lank die vise-president van die unie was.

Maak saam met Harry beurte om soos ’n worsbroodjie agter in die middel te sit.

Daar word stories uitgeruil oor die oudae. Ons lag! Ons lag al die pad tot by die Mbombela Stadion.

Leon vertel van die derde span wat altyd eerste gespeel het op die Kees Taljaard Stadion. Daarna het die derdes erewag gestaan vir die tweedes, gestort, ’n bier in die kleedkamer gedrink en is dan op na die onthaalsaal.

Teen die tyd wanneer die eerste span opgedaag het vir die onthaal, was die derdes al heel vrolik. Dié aand was Kosie, ons los liewer sy regte naam en van, al goed gekuier.

Leon en Hendrik Koekemoer het besluit om hom huistoe te vat. Hulle het op en af gery, totdat Kosie ’n geel huis uitgewys het. Hulle is saam in om te kyk dat hy veilig is. Toe ’n vrou die deur oopmaak, het Kosie gebrom:

“Ag nee, nou het ek nog besoekers ook!” Die vrou het hom skuins aangekyk en heel simpatiek geantwoord: “Kosie, maar jy bly langsaan”.

Lê Sondagaand in die bed en giggel weer oor Kosie, die verkeerde huis en die vele ander staaltjies.

By die Mbombela Stadion is die legendes amper almal daar.

Hulle vorm ’n erewag voordat die Pumas en Haaie mekaar in ’n Curriebeker kragmeting pak.

Die Pumas wen!

Na die wedstryd gee die Puma span en hulle afrigter, Jimmy Stonehouse, ’n hoendervel lekker seremonie in die presidentslosie.

’n Paar van die legendes by die feesviering was:

•Ruper Hector wat die eerste Suidoos-Transvaal kaptein en skrumskakel was.

•Richard Cooke, die haker met die giftige haakvoet wat kaptein was van die span wat die Westelike Provinsie in 1983 geklop het.

•Kallie Grobler, die speler wat die meeste drieë vir Suidoos gedruk het.

•Hendry van Tonder, die meneer agsteman wat later vir Noord-Transvaal gespeel het.

•Gert la Grange wat die losskakel was van die 1983 span.

•Terence Moll, nommer ses flank van die span.

•Jan Erasmus die voorry en grapkas.

•Loutjie Maritz wat agsteman gespeel het.

•Piet Craven, kaptein van Suidoos en ’n staatmaker by Middelburg Rugbyklub.

•Die kleurryke voorry, Jerry van Rooyen.

•Flank Francois Rossouw wat vir die SA Skole span gespeel het, vir Suidoos en Noord-Transvaal.

•Julius Weber, voorry en sekretaris van die unie.

•Twee van die legendariese Otto familie, pa Daan en sy seun die Bokslot Krynauw. Boetie Johan was nie daar nie.

•Lood Grobler, broer van Kallie en skitterende senter van die Suidoos beginspanne.

•Arrie Myburg wat vele wedstryde vir Witbank se tweedes en die Blesbokke op haker gesak het.

•Tonie van Rensburg wat vir Witbank gespeel het en ’n Suid-Afrikaanse bokskampioen was.

•Gene Matthey, blitsige vleuel van Witbank en Suidoos in 1977 en musikant waaroor die meisies geswymel het.

•Bakkies Lourens, wat 33 wedstryde vir Suidoos op heelagter gespeel het.

 

 

 

 

 

Lees ook:

Nagwedloop by CR Swart

Potjiekos- en boerewors kampioene gesoek 

Pappa aap dink ‘mammegaai’ is ‘n vrytjie

Stoffbergpad eis nog ‘n lewe

 

 

 

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button