Die reuk van kos en dertig spelers wat ’n bal jaag
Wanneer jy klein-klein is, kom sit die onthou meer in die hart as in die kop.
So was dit meer as vyftig jaar gelede.
Het tussen drie boeties gesit op die Witbank Stadion, later die Johan van Riebeeck Stadion se B-veld. Witbank, met pikswart truie, het teen ’n ander klub gespeel. Dit is hier waar die onthou jou in die steek laat. Weet net ’n dominee Van Rensburg het vir Witbank op haker gesak, kan nie onthou teen wie hulle gespeel het nie, kan nie eers onthou wie gewen het nie.
Lees ook: Ons lag tot in Mbombela
Kort-kort het jy gehoor:
“Kom dominee! Mooi dominee!”
Op 3 Mei 1972 het ’n Noord-Transvaal B-span op dieselfde veld gespeel. Onthou die vegvlieënier, Renier Grobler, het op vleuel uitgedraf vir die Bloues met Boerpens Strydom sy teenstander.
Basie Erwee was die ander vleuel. Ander kookwater Suidoos spelers was die heelagter Johnny Roelofse, senter Lood Grobler, die skakelpaar Koos Nel en Hennie van der Spuy, met yster voorspelers Ben Badenhorst, Lukas Viljoen, Piet Cloete, Hendrik Steenkamp en Lofty Nel.
Daardie aande het die emosie van dorpsrugby, toeskouers, die reuk van braaivleis, warmbrakke en pannekoek… én dertig ouens op wie die stoom staan, soos hulle baklei om ’n bal, jou beetgepak.
Gehook!
Lees ook: Die dag toe die kolonel tussen die koerante moes ry!
Saterdae was die Johan van Riebeeck Stadion ons jagveld.
Vrydagmiddae het Johannes, van Barclays Uitrusters, deur die sakekern geloop met ’n plakkaat om sy nek, wat die wedstryde aankondig. Hy het ’n groot klok, soos ’n ou skooklok, aanhoudend gelui. Almal het geweet daar is Saterdag rugby. Barclays se eienaar was die sekretaris van Witbank Rugbyklub, Heinie de Lange.
Rugby het beteken jy is al half agt by die veld, want agt uur skop die Suidoos-Transvaal laerskole af, daarna was dit die Suidoos hoërskole, Suidoos se o/20 span, die Blesbokke (B-span) en dan Suidoos-Transvaal se senior span, in die Sport Pienaarbeker.
Johannes het Saterdae sy klok en plakkaat verruil vir ’n mandjie om sy nek, waarin allerlei lekker eetgoed was wat hy verkoop het. Boetie Nico, wat later self vir Suidoos op flank gesak het, het hoofsaaklik saamgegaan vir die eetgoed.
Later was die manne in grys jou helde: Spelers soos Lood Grobler, Jan Taljaard, Lofty Nel, Kleintjie Venter, Robert Honeyborne, Boerpens Strydom, Koos Nel, Kobus Ferreira, Gert Delport, Hennie van der Spuy, Abrie van Wyk, Giel van Antwerpen, Mike Crossman, Koos Harmse…
Na die wedstryd het ons op die veld gestorm, net om naby aan ons helde te kom. Wie sal ooit Taljaard se drie in 1975 teen Rhodesië vergeet toe die skrumskakel, ek dink dit was Louis Pietersen, gebreek en die bal opgewip het na sy agsteman?
Lees ook: Kat Smit, Kevin de Klerk en die Mercedes wat flenters geduik is
Saam met Eric Heyns en die tweeling, Klasie en Gert la Grange, baljoggie gewees en toe die Poemas in 1971 op Witbank speel, programme by die stadion verkoop. Toegang was R2 en op die kaartjie het daar duidelik gestaan “kinders sal nie toegelaat word, tensy hulle in besit van ’n kaartjie is”.
Die La Grange tweeling was die skakelpaar in die roemryke oorwinning oor die Westelike Provinsie in ’n Lionbeker wedstryd. Heyns het vir Suidoos op senter uitgedraf.
By die toegangshek het ’n moeilike omie altyd gesit, wat erg omgekrap en onbeskof was as jy nie kleingeld gehad het nie. Daardie jare het jy nog ’n R2 noot gekry. Het dan vir boetie en die maatjies gewys hoe die noot stuif opgerol is. Wanneer die omie gesien het dit is ’n R2 noot, het hy ontplof, ons het in die stilligheid lekker gelag.
Vandag kom sit die onthou sommer lekker in die hart.
Die onthou van Harry Muller wat in 1973 sy buiging teen Noord-Transvaal gemaak het toe Suidoos in die Curriebeker gespeel het. Hy het later 126 wedstryde vir die provinsie gespeel. Boerpens Strydom wat Sarel Aucamp so moeilike tyd gegee het op vleuel. ’n Groot dag gewees, want die Johan van Riebeeckstadion is ook ingewei.
Ons sit op die oostelike oop pawiljoen. Suidoos laat die Pretorianers harde bene kou, maar verloor met 16-34. Noord-Transvaal wen daardie jaar die Curriebeker.
Dan was daar Newport. Hulle toergroep het gedreunsing “Néééwport, Néééwport…” en dan het die tuisskare geantwoord met “Suidóóós Suidóóósss…”. Suidoos wen 22-17, Lofty Nel was die kaptein.
Toe kom 1997, die geel varkoor met al sy tradisie verdwyn en word vervang met ’n grommende Puma, al kry jy geen bergleeu in die provinsie nie. Die Puma was omdat die unie se naam verander het na Mpumalanga Rugby-unie.
Lees ook: Die drie reisende joernaliste
Die ouens wat geboer, by Columbus gewerk en onderwysers was op die dorp, word vervang deur huursoldate van Pretoria. Byna die hele Noord-Transvaal B-span kom speel vir die Pumas. Spelers soos Franco Smith wat deesdae die Vrystaat afrig, Marius Goossen wat in Italië ’n afrigter is, Chaka Willemse, Henry Kemp, Piet Joubert (boerseun van Belfast) wat ook vir Noord-Transvaal geskitter het, Riaan Potgieter en Gavin Passens, word later almal tuisveld helde.
Met geldrugby verander alles, die kameraadskap, die initimiteit van toeskouer en speler verdwyn. Die lekker onthale na wedstryde, selfs keurders, is oorbodig.
Die ou Johan van Riebeeck stadion word vervang met die indrukwekkende Mbombela Stadion in Nelspruit.
Wanneer jy met die vyftig jaar feesvierings by die stadion instap, is dit om soos by ’n ryk man se huis in te stap vir ete. Die spelers is doer ver onder, die swier en prag oorweldigend – koud, klinies. Die Johan van Riebeeck sal altyd wees soos om by jou vriende te braai. Die spelers hier by jou, die braaivleisvure se reuk in die lug.
Maar dit was nie net altyd rugby nie. Het gesien hoe rol ’n man met motorfiets en al van die trappe af in die Johan van Riebeeck stadion, toe hy te na aan die trappie gestop het. ’n Ambulans het hom weggeneem.
Dan was daar die aand toe ’n kar van die N4 hoofweg af tot in die stadion “gevlieg” het. Die twee insittendes is ernstig beseer. Die ambulans wat hulle kom oplaai het, het gelyk asof hy vir ’n varkboerdery gebruik word. Nou goed, dit was al na 1994.
Soos die jare aangestap het, het die jagveld verander na “werk” – joernalis! Sekretaris van Witbank Rugbyklub geword, wedstryde uitgesaai saam met Jurg Myburg en Heinrich Marnitz vir SAUK radio…
…en toe is vyftig jaar verby!
Ander nuus:
VIDEO: Swem bakkie, swem! Die bakkie wil nie swem nie!!!
Man kritiek na kar deur muur ry
Ma dankbaar dat hulle leef na sy en dogtertjie in Middelburg rooftog raak geskiet is
Lily Mtsweni se merkwaardige pad na bo
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
