Gaan kyk na die mier? Nee, gaan kyk na Pieter Swanepoel!
Hy het al op 15 begin rook, op 38 jaar minstens 40 sigarette per dag, hy was drank se baas oor naweke, maar somtyds ook gedurende die week.
Oefening was so uit soos ’n ete by Spur tydens inperking, “geen sport of oefening sedert my diensplig in 1975 nie en daar het ek ook maar net gedoen wat die instrukteur my gedwing het om te doen.”
Op 21 Junie 2008 het Pieter Swanepoel sy drankkabinet gesluit en op 4 November 2009 sy laaste teug aan die gifpyl gevat.
Maar toe begin die kilogramme om die middellyf kommerwekkende afmetings aanneem, later ’n gewigtige 130 kilogram.
“Ek het uitasem geraak as ek te ver stap en trappe klim was uit, ek het eerder die hysbak gebruik. As ek geen ander keuse gehad het as om trappe te gebruik nie, moes ek tussen vloere rus, omdat ek duiselig geword het,” vertel hy.

Die tweede deel van 2015 het hy vyf keer probeer om te draf. Hy stap twee parkruns en ’n nagwedloop.
Sy keerpunt kom in Desember 2015 toe sy seuns, Pieter en Edwin, van oorsee af hier kom kuier.
“Hulle het my elke dag saam laat draf, my pas natuurlik. Daar het ek besef dat hardloop voordelig is vir gewigsbeheer én my gesondheid en dat ek dit geniet om saam met my kinders te hardloop.”
Maar die eerste drafervaring was nie gelykpad nie. “Ek kon ’n volle 180 meter draf voor ek begin lighoofdig raak en het needles and pins oor my hele liggaam gekry,” vertel Pieter.
Vandag weeg hy ’n slanke 88 kilogram, is voorsitter van Middelburg Marathonklub nadat hy in 2016 by die klub aangesluit het “om ernstig te begin oefen met die oog op beter gesondheid en veral om my rokerslonge se kapasiteit te herstel. Dit het nou ’n leefwyse geword en ek kan my nie indink dat ek dit nie meer sal kan doen nie.”
Die laaste drie jaar verteenwoordig hy die Mpumalanga landloopspan en het verlede jaar vir die provinsie aan die Suid-Afrikaanse 10 kilometer kampioenskappe deelgeneem.
Beste tye:
Parkrun: 22:32 Rooty Hill parkrun Sydney Australië
5km: Soos bo maar 23:12 gedurende 2019 Interklub.
10km: 47:48 Burnie 10km Tasmanië.
21km: 1:54:04 Lake Umuzi Half Marathon Secunda.
42km: 3:54:36 Uniwisp Nelspruit.

Wanneer jy hom uitvra oor sy drafloopbaan hoogtepunte, ryg hy vinnig ses punte af:
•Ek het ’n paar wedlope saam met my twee seuns gedoen en dit was iets wat ek, of hulle, nooit gedink het kon gebeur nie.
•Draf sonder om lighoofdig te raak en te kan meeding met ervare atlete wat ek al vir jare as ikone beskou.
•Insluiting in die Mpumalanga Landloopspan die afgelope drie jaar.
•Insluiting in die Mpumalanga 10km span.
•Kwalifiserende marathon vir die Comrades Ultra Marathon.
•Meer as 100 parkruns.
As voorsitter van Middelburg Marathonklub het hy groot planne:
“Ek sal graag wil sien dat ons voortbou op die klub se ryk geskiedenis. Nog meer uitstekende atlete sal byvoeg en ook ’n rol speel in die gemeenskap. Ek wil die lede gemaklik en tuis laat voel, met ’n sterk besef van kompetisie en die belangrikheid daarvan om jouself te verbeter, sodat jy jou volle potensiaal kan bereik. Geen atleet moet afgeskeep of minderwaardig voel nie. Elkeen moet na sy vermoë ontwikkel, sodat dit lekker is om deel te neem en veral deel van die klub te wees.”
Wanneer hy oor sy gesin gesels, is dit nie die appel val ver van die boom af nie. Dit is die drie appels het self welig aan die boom gegroei.
Al drie sy kinders het aan ’n reeks sportsoorte deelgeneem;
Pieter het rugby, atletiek, landloop, krieket en perdesport gedoen.
Met perdesport was hy die Noord-Transvaal kaptein en nommer een ruiter (vier ruiters per span).
Edwin het rugby, atletiek, landloop, krieket en tweekamp gedoen.
By Hoërskool Kanonkop het hy op die 400m, 800m en 1500m gekonsentreer. Hy was van onder nege af elke jaar in die provinsiale atletiek span en sy beste SA vertoning was o/18 toe hy ’n vyfde plek in 800m met 1:55:02 behaal het.
Wynette het in netbal, landloop en tweekamp provinsiale kleure gekry.
Pieter en Edwin het Australië toe geïmmigreer waar hul vandag albei aktief deelneem aan veldwedlope en padwedlope. Pieter het al die London, Sydney en Singapoer marathon voltooi en ook die UTA -(Ultra trail running 30km, 50km en 100km) reeks.
Edwin het ook al talle marathonne voltooi, die Comrades en die UTA Trail en is gekies vir die Tasmaniese marathon span.
Maar wat is sy doelwitte?
“Ek sal graag wil aanhou om kompeterende landloop en in die 10 kilometer padwedloop op provinsiale vlak te kan meeding. Die Comrades marathon te voltooi. Die 10km – sub 45 minute te hardloop. En dan wil ek ook atletiek probeer, miskien die 1500m en hoogspring.”
“Gaan kyk na die mier” sê die Groot Boek. Op ons dorp kan die oorgewig, onfikse, rokende gefrustreerdes, na Pieter Swanepoel gaan kyk, die oud-roker en drinker wat op 63 aan sy eerste Comrades Marathon sou deelneem…
