Sport

Kom hulle die rugbykroon buit?

“Kom hulle die rugbykroon van ons buit?”

Daardie wêreldbeker kroon wat so stewig op Siya Kolisi se kop sit?

Nee, dit is nie die Leeus van 2021 wat op pad is om die Bokke ’n wêreldbeker babelaas te gee nie, dit is die Leeuspan van 1962 waarvan gepraat word.
Hoe groot gebeurtenis ’n Leeu toer is, besef jy weer wanneer ’n nasionale tydskrif die span in volkleur op sy voorblad plaas.

Die opskrif is onheilspellend: “DIE LEEUS, 1962. Kom hulle die rugbykroon van ons buit?”

In daardie span was legendes soos Syd Millar, Dickie Jeeps, Tom Kiernan, Richard Sharp en die kaptein Arthur Smith.

Op bladsy vier, vyf en ses, word vol bladsye afgestaan aan die toer en ’n handskrifdeskundige is selfs genader om die spelers te ontleed. Mark Preston, voorspel dan:

“Hierdie klomp Leeus gaan die Springbokke ’n loesing gee wat hulle nie lig sal vergeet nie. Volgens hulle handtekeninge is daar nie ’n meer vasberade groep denkbaar nie!”

Elke speler se karaktereienskappe word bespreek. Oor Kiernan word gesê: “Hy praat nie maklik nie en maak moeilik vriende. Hy leef vir prestasie en is ’n baie beskeie konserwatiewe lid van die span.” John Dee word beskryf as ’n man wat met sy arms woel. “Hy beduie vreeslik as hy praat en moes ’n verkoopsman geword het”.

Die span het die land vanaf die destydse Rhodesië binne gekom nadat hulle met 38-9 in die buurland gewen het en op Kimberley saamgetrek.

Die Brandwag se rubriekskrywer, ene “Beterweter” staan self ’n bladsy af aan die toerspan onder die opskrif “Moenie lag vir hierdie oond nie”.
’n Foto verskyn saam met die rubriek van ’n Leeu skrum waar een slot met sy agterstewe hemelwaarts druk.

“As ek nie van beter geweet het nie, sou ek vandag saam met die klompie Suid-Afrikaanse koerantmanne gelag het vir die snaakse manier waarop die klomp voorspelers van Arthur Smith se Leeu-span skrum. As mens na die foto kyk dan voel jy mos soos die Kapenaar wat die boodskap van sy skoonma se heengaan ontvang het. “Boeta”, het hy gesê, ‘moet dan nie laat ek lag nie, my lippe skeur te maklik”.

Die toerspan het in sy eerste wedstryd teen Griekwas gelykop gespeel met 8-8 en ook vasgeval teen Noord-Transvaal (6-14) en Oos-Transvaal (16-19). Die eerste toets het drie elk gelykop geëindig, maar die tellings daarna was almal in die Bokke se guns: 0-3, 3-8 en 14-34.

Van die “ons gaan die Bokke pakgee” het toe dadels van gekom.

Maar skud solank julle vere reg, die Leeusirkus van 2021 gaan dalk nie op Huisgenoot se voorblad pryk nie, maar vir genoeg vermaak sorg om ons vir jare besig te hou.

 
Back to top button