Sport

Vyftig jaar later hoor jy steeds “Siddie, Siddie, Siddie…”

Dit was 25 Julie 1970, vyftig jaar gelede, was in standerd vyf. Die All Blacks het dié dag teen die Springbokke op Loftus Versfeld gespeel. Die eerste toets.

Soos gewoonlik het ons gesin om die draadloos saamgekoek. Dit was immers die magtige All Blacks teen die Springbokke!

Voor die wedstryd het Brian Lochore se span alle teenstand uit hulle pad gevee, met oorwinnings oor onder andere Transvaal 34-17, Wes-Transvaal 21-17 en Vrystaat 30-12.

Gerhard Viviers se kleurryke beskrywing van elke beweging het jou deel van die toets gemaak. Dit was so al asof jy self op Loftus gesit het. En toe kom die hoogtepunt:

“Tiny Neethling kry die bal hier voor sy voete, toe Fergie McCormick aan die bal vat stamp hy hom onderstebo, die bal spat uit hier diep binne hulle kwartgebied aan die oorkant van die veld, maar die skeidsregter het reeds ’n strafskop toegeken aan die All Blacks. Sid Going vat ’n tikskoppie en laat loop na Cotrell, na Lochore, wat hom vasloop. Syd Nomis kry die bal in die hande en daar trek hy: Siddie, Siddie, Siddie…”.

Daar is na die tyd gespot dat dit gelukkig nie die haker Piston van Wyk was wat onderskep het nie.

Bok kaptein, Morné du Plessis, het Viviers later bedank “vir die drie wat hy en Nomis gedruk het”.
Die wedstryd sal ook onthou word vir Joggie Jansen se plettervat op die losskakel, Cotrell.

Die Bokke het 17-6 gewen en die Jansen drie was die keerpunt in die kragmeting.
Beide Lochore, Viviers en Nomis is intussen oorlede.

Die roemryke Nomis drie is later op ’n langspeelplaat verewig.

Met platespelers wat weer mode is, kan “Siddie, Siddie, Siddie…” weer Saterdag in voorkamers herleef…al is dit vyftig jaar later!
Gaan self my langspeelplaat van “Springbok hoogtepunte” uithaal.

Sal weer lekker wees om terug te keer na Loftus, om te onthou van ’n familie om ’n draadloos en Gerhard Viviers wat uitasem uitsaai: “Siddie, Siddie, Siddie…!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button