Sport

George man help Pumas om te grom

Die legendariese Blou Bulle spanbestuurder, Wynie Strydom, het so opgewonde geraak langs die veld, dat hy later bekend gestaan het as “Hartaanval Wynie”.

Maar daar is ook die stil spanbestuuder, jy sien hom nie, jy hoor hom nie, maar hy is al vir twaalf jaar een van die bestes.

Marius Janse van Rensburg het op Witbank aangekom met erge Kaapse bry en ’n groot liefde vir rugby. Nou, 12 jaar later, is hy verantwoordelik vir die dag-tot-dag take aan die beroepskant van die Mpumalanga Rugby-unie, nadat hy vroeër vanaf spanbestuurder tot bedryfsbestuurder bevorder is.

Janse van Rensburg is ’n koerantman se droom: Professioneel, behulpsaam, vriendelik en ’n man wat sy rugby ken. Hy herinner baie aan die destydse Suidoos-Transvaal sekretaris, Robert Brand.

Hy is gebore en getoë op George waar hy aan Laerskool Heidedal was en gematrikuleer het aan Hoërskool Parkdene.

“My liefde vir rugby het begin toe ek 11 jaar oud was, ek het beide Laerskool en Hoërskool rugby gespeel en ook die Suidwestelike Distrikte op provinsiale vlak verteenwoordig, maar nooit professionele rugby gespeel nie,” sê Janse van Rensburg.

Klubrugby op George is groot en Janse van Rensburg het vir Silverstars en Crusaders uitgedraf, waar hy later afgerig het.

Sy pad na die Pumas het begin by die SWD Amateur span en later die spanbestuurder van die SWD professionele span waar hy drie jaar betrokke was.
Op 1 November 2008 het hy die skoonheid van die Outeniqua berge verruil vir die mynhope van Witbank.

Oor Strydom sê Janse van Rensburg: “Ek het groot respek vir Wynie, hy was baie passievol oor die spel en die emosies was duidelik sigbaar. Ek is self passievol, maar is meer rustig langs die veld, aangesien ek nader aan die spel is as die afrigters en ek gee my opinie gedurende wedstryde.”

Maar gaan hy probeer om Strydom se rekord van 16 jaar te verbeter? “Ek sal graag vir nog lank by die Pumas wil bly, ek is baie gelukkig in Mpumalanga. ”

Sy hoogtepunt die afgelope 12 jaar was in 2013 toe die Pumas aangewys is as SARU se span van die jaar en Jimmy Stonehouse SARU afrigter van die jaar.

Oor Stonehouse raak hy liries: “Volgens my is dit een van die beste, indien nie die heel beste, afrigter in die land. Hy is ’n eerlike en reguit persoon en dit is wat ek van hom waardeer. Baie van die sukses by die Pumas kan aan hom toegeskryf word, iemand wat sy laaste sal gee vir sy spelers en die Unie, hy leef elke dag om die Pumas beter te maak.”

Spanbestuurders sal vir jou vertel dat daar altyd ’n “stoute” speler of twee is wat hulle gryshare gee. Maar wat was sy benoudste oomblik by die Pumas? “Ek moes ’n vliegtuig drie ure laat wag by OR Tambo Lughawe, omdat ons bus laat was vanaf Nelspruit. Ek het nog nooit so gesweet nie, want ek het gesien hoe ons die vliegtuig verpas Windhoek toe.”

www.mobserver.co.za het besluit om Janse van Rensburg weer te laat sweet en hom gevra om sy beste vyftiental van die afgelope 12 jaar te kies.

Sy span is: MJ Mentz, Allistair Kettledas, JW Jonker, Stefan Watermeyer, Rosco Spekman, Elgar Watts, Faf de Klerk, Renaldo Bothma, Uzair Cassiem, Corné Steenkamp (k), Marius Coetzer, Rudi Matthee, Vincent Koch, Hannes Franklin, Ronnie Uys.

 
Back to top button