Haker duik Mercedes flenters
Hulle speel “dat die stof so staan” of “hulle speel dat die bloed loop”, was geen oordrewe stellings tydens rugbywedstryde in die beginjare van rugby in die oud Suidoos-Transvaal nie.
Terwyl vele rugbyspeler en kommentator nou op die rugbywa klim om te getuig van sy swaarkry dae op die rugbyveld, is daar hard gespeel, hard baklei en hard gekuier.
Daar is nie gekla en gekerm nie.
Daar is rugbyherinneringe gemaak wat vir jare voortleef.
Een van dié verhale gaan oor ’n haker, ’n hospitaalsuster en haar Mercedes.
Die godsverlate Amersfoort, waar oom Rautie Rautenbach regeer het, het in 1991 ’n bulspan gehad, een wat die liga kon wen.
Belfast het na die Amersfoort vlaktes opgeruk, met ’n trotse rekord wat die Suidoos-Transvaal liga ingesluit het en provinsiale spelers soos Polla Fourie, George Minnaar, Hennie Schoeman, Gawie van Rensburg, Jakkals Vermaak, Nico Kriek, China Vorster, Johan van Rensburg en Willem Smit.
Om die veld het die karre ingeryg gestaan.
Amersfoort het tot stilstand gekom.
Na twintig minute was die telling met vyf punte elk gelyk.
Vir Belfast het die haker, Jacques de Wet, ’n reuse wedstryd gespeel en soos ’n kamakazi vliegtuig eerste by die losskrums ingeduik.
Die twee spanne het tussen Amersfoort se tientreëstippellyn en kwartlyn verwoed geveg om die bal uit ’n losskrum te kry.
Op ’n afstand het De Wet al sy turbines ingeskop vir die volgende lansering.
Alles sou waarskynlik vlot verloop het as die slot, Trichardt Smit, nie soos ’n bomwerper agter die vlieënde haker aan was nie.
In plaas van die losskrum “skoonmaak” is altwee bo-oor, jy sien net glasstukke spat soos hulle die Mercedes van suster Ria Smit van die Amersfoort Hospitaal tref.
De Wet het die hooflig flenters geduik en Smit het korte mette van die buffer gemaak. R4000 se skade! Toevallig was suster Smit die noodhulpbeampte vir die dag en sy het die ergste bloed van De Wet se gesig afgespoel, sodat hy verder kon speel.
Dit was eers toe hy aan sy wang vat en sy tong en tande voel, dat hy besef hy het slegter daarvan afgekom as die Mercedes.
Die snywond het van sy ken, al langs sy gesig op, tot net bokant sy oor gestrek. Hy is na die Witbank Hospitaal gejaag om die skade te herstel.
In sy hospitaalbed het hy die steke probeer tel, maar op 43 moed opgegee.
Smit het die stof afgeskud en verder gespeel.
Belfast het nogtans die eerste keer die seisoen verloor.
