Na rugby word joernalis ’n peetpa
Ridders van die rugbyveld. Hulle het patrollie gestap, op en af, gewoonlik waar ’n lynstaan was vasgesteek en ’n foto geneem, want dit was die maklikste foto, ’n rankende slot - hulle was gemeenskapsjoernaliste.
Links, regs, regs, links, op en af langs die veld, tagtig minute lank.
’n Notaboek, of program, is in die een hand vasgeknyp. Wanneer daar punte aangeteken is, moes daar vinnig aantekeninge gemaak word.
Bo in die persbank het die joernaliste van die nasionale media gesit, Cor Leijenaar van Beeld, Christo Lemmer wat vir Die Transvaler geskryf het en Solly Solomons van Rapport.
Wanneer dit ’n groot wedstryd was soos die Westelike Provinsie teen Suidoos-Transvaal in die Lionbeker, het hulle fotograwe saamgebring.
Dié ouens het met kameralense opgedaag, wat gelyk het soos wapens van massavernietiging. Natuurlik was dit nie goed vir ’n man se selfbeeld nie.
Hulle het agter die pale gaan stelling inneem, waar hulle gedink het die meeste drieë gedruk sou word. Met die Suidoos teen WP kragmeting het hulle agter die Gryses se pale gaan sit, tot hulle besef het dit gaan nie dié dag eenrigtingverkeer wees nie.
Byna elke dorp het so ’n ridder gehad waarvan wyle Corrie Kleynhans op Ermelo, een van die bekendes was.
Die joernaliste van buite die dorp is op die hande gedra in die persbank, want wie gaan nou sy gasheer kritiseer wanneer hy bederf word?
Somtyds het Leijenaar vroeg van Pretoria af deurgery en dan is daar eers gebraai voor die rugby.
Leijenaar was ’n Suidwester met ’n lekker bry en pyp.
So sit ons op ’n dag oor die middag se rugby en gesels toe ons skielik sien die wintergrasperk is aan die brand.
Daar is so diep oor die rugby gefilofiseer, dat ons nie agtergekom het sy pyp, wat hy uitgeklop het, het die droeë grasperk aan die brand gesteek nie.
Leijenaar was nooit getroud nie maar hy was darem peetpa.
Is na ’n wedstryd onthaal toe en vinnig na Middelburg se kraamsaal waar Tobias Johannes (Junior) gebore is.
Dit het mooipraat gekos by die kwaai kraamsuster dat Leijenaar ook die nuwe toevoeging tot die familie kon waardeer. Hy was so meegevoer deur die fris knaap, dat hy net daar peetpa gemaak is.
Weet dat hy my ewig dankbaar is oor die voorbladberig in Beeld.
Dit was die eerste keer in Suid-Afrika waar ’n lynregter ’n geelkaart gekry het. Daardie jare was daar natuurlik nog nie kaarte nie en die lynregter is sommer beveel om sy vlaggie te vat en te trap.
Suidoos-Transvaal se groot held, Harry Muller, het ’n doelskop deur die pale gejaag teen Griekwas, maar skeidsregter Cassie Carstens het beslis dit is mis, al het lynregters Salie Pienaar en Bossie Bosman gewys die skop is oor.
Later het Griekwas se Gawie Visagie aangelê pale toe en die bal het rakelings oor die dwarslat geseil. Pienaar het sy vlag afgehou en Bosman het gewys dit is oor.
Na ’n relletjie met Carstens het Pienaar gebrom: “Daar word punte by Suidoos gesteel”.
Hy is net daar in die pad gesteek en Suidoos-Transvaal skeidsregtersvereniging se Lappies Labuschagne moes in sy kerkpak vlagman speel.
Die koerantmanne en toeskouers was onbewus van die petalje, maar is met Leijenaar gedeel, wat ’n voorbladberig vir Beeld geskryf het.
Intussen het die plattelandse ridders ook lang lense gekry, maar sommige het steeds die gewoonte om die veld te patrolleer…op en af, al neem hulle nie meer net lynstane af nie.
•Lemmer is verlede jaar oorlede na ’n lang siekbed, Leijenaar verjaar vandag, hy is 79, Solomons het na die lekker rugbydae op Witbank verdwyn. Ons het nooit weer van hom gehoor nie, tot vandag toe.
En wat sal ons nie gee om vandag te kan patrollie stap langs die rugbyveld nie?
