Sou Suidoos die Pumas kon klop?
Daar is Suidoos-Transvaal en dan is daar die Pumas. Een provinsie, twee spanne. Die twee kan nie met mekaar vergelyk word nie. Die een was ’n amateurspan en die ander ’n professionele span.

Die Pumas se jarelange spanbestuurder, Marius van Rensburg, is gevra om sy beste span te kies waarby hy die laaste 12 jaar betrokke was.
Sy span is: MJ Mentz, Allistair Kettledas, JW Jonker, Stefan Watermeyer, Rosco Spekman, Elgar Watts, Faf de Klerk, Renaldo Bothma, Uzair Cassiem, Corné Steenkamp (k), Marius Coetzer, Rudi Matthee, Vincent Koch, Hannes Franklin, Ronnie Uys.
Maar hoe sou dié span gevaar het teen Harry Muller, Kallie Grobler, Chris Botha, Steve Meyer, Boerpens Strydom, Gert la Grange, Mike Crossman, Lofty Nel (kaptein), Polla Fourie, Terence Moll, Daan Badenhorst, Johan Spies, Fanie Vermaak, Richard Cooke en Jan Loubser?

Albei spanne het twee Springbokke in hulle geledere. Koch en De Klerk vir die professionele span en Nel en Spies vir die amateurs.
Die antwoord sal niemand ooit weet nie, maar dit bly ’n lekker speletjie om name rond te gooi.
Natuurlik het die spanne in die beginjare somtyds net een keer geoefen en moes hulle honderde kilometers ry om op Witbank te sweet.
Dit was harde manne wat hard gewerk en hard gespeel het.
Vandag is daar gimnasiums, dieetkundiges, fisioterapeute, biokinetikuste én groot salarisse.
Daar is ’n paar posisies waar daar lank gestry sal word.
Heelagter is nie een van hulle nie, want Harry Muller is waarskynlik die beste nommer 15 wat die provinsie ooit opgelewer het. Was daar iemand wat beter afgerond het as Boerpens Strydom op vleuel? Wanneer jy dieselfde vraag vra oor Kallie Grobler op regtervleuel kan die antwoord maklik wees, Dirk Pretorius.

Hy was die land se voorste driedrukker. Kobus Ferreira was ook briljant. Hein Mentz en Frank Sullivan sou geen span in die steek laat nie.
Was daar senters wat soos Muller uitgestaan het? Wat van Willie Meintjies, Lood Grobler, George Killian en die vernietigende verdediger, Wimpie van der Westhuizen?
Koos Nel was in die beginjare ’n meneer op losskakel, maar daar word gestry wie van Hendrik Koekemoer of Gert la Grange die beste was.
Tussen Mike Crossman, Rupert Hector, Hennie van der Spuy, Chris le Roux, Louis Pietersen, Koos Coetzee en Klasie la Grange, gaan daar moeilik op skrumskakel gekies word.
Al was hy in die skadukant van sy loopbaan was Lofty Nel steeds ’n yster op agsteman. Maar wat van Menanteau Serfontein, Hendry van Tonder, Martin van Eeden en Jorrie Jordaan?

Daar was net een Polla Fourie op sewe flank. Wie onthou vir Piet Craven, Hennie Venter, Kat Smit, Leon Stapelberg en Piet Cloete?
Terence Moll was ’n baljagter van formaat. Was hy beter as Francois Rossouw in die nommer ses trui?
As slotpaar het Johan Spies en Ben Badenhorst nie hulle gelyke gehad nie. Toe die twee jong Turke, Vleis van Zyl en Bertus van Eeden, hulle opwagting maak, het die vonke gespat. Daan Badenhorst was ’n reus, wat later diep spore getrap het in Transvaal. Ben Harber was darem self ’n bielie en Koot Coetzee sou geen span in die steek laat nie.
Op vaskop het Fanie Vermaak ander voorrye met sy krag laat les opsê, maar daar was nie ’n slimmer voorry as Hennie Coetzee nie. Hy en Ben Putter het mekaar op ’n stadium uitgedaag vir die nommer drie trui.

Richard Cooke sal altyd die gunsteling haker wees maar Abrie van Wyk was ’n klein terrier wat ver bokant sy gewig gespeel het. Guy Queck was self woelig, terwyl ’n jong Clive Schlachter en Harry Gunther op ’n stadium vir Cooke ingestaan het.
Jan Loubser het vanaf loskop drieë gedruk waaroor agterspelers jaloers was en sterk geskrum, maar Nan Broekman het soos ’n blok woonstelle gestaan. Die vraag is, was Jerry van Rooyen dalk die beste loskop?
Wat van Jan Erasmus wat saam met Vermaak in die skrum gesak het? Hy het sy plek vanaf Kriel oopgeskrum in die Suidoos span.
Nou het ons klaar gespeel.
Kan jy ’n beter span kies?
