Daar is darem altyd ’n grappie
Daar het ’n doodse donkerte posgevat in sport. Die lag is weg. Ou Toks probeer nog Vrydagaande met ’n “ons moet lag mense”, maar dit blyk alles tevergeefs.
Daar word gestry oor wie moet kniel en wie moet nie kniel nie, wie het gekniel en wie het nie gekniel nie, die woorde marxisme, kommuniste en antichriste word gereeld gehoor.
Springboktruie word verbrand en ander opgesnipper. Party ouens dreig om in plaas van Blou Bul dinges agter hulle bakkies, flenter Springboktruie daar te hang.
Miskien kort ons ’n nuwe program: “Maak ’n lag!”
Nee, laat ons lag mense, laat ons lag!
Die joernalis, Henk Steenkamp, het in Suidoos-Transvaal se donkerste tye gesê “daar is darem altyd ’n grappie”.
En dit was waar.
Wanneer jy vir 40 jaar ’n sportrubriek skryf, weet jy saam met die donkerste tye is daar altyd iewers ’n grappie.
En wanneer jy dit weekliks doen, al oorval die virus en ander tragedies jou, weet jy die week kan nooit sonder sy dosis lagspierdoepa nie.
Laat ons lag mense!
Sommige stories lag jy nie oor nie, jy skud soos jy lag, ander beleef jy die prentjie oor en oor in jou kop.
Soos die dag toe Poerie van Rooyen ’n vinnige tikskoppie van die kwartlyn wou vat en die wildewragtag Simon van Niekerk, wat by Highveld gewerk het, was op pad om hom met moeder aarde gelyk te maak.
Net agter Simon het Poerie se swaer, die losskakel Leon van den Berg, gedraf. Hy het besef Poerie, wat ’n skrumskakel was, se lewe is in gevaar en het die Witbankse flank gepootjie.
Toe Simon opstaan, was daar moord in sy oë en Leon het besluit die enigste uitweg is, vlug! So is hy al om die veld gejaag. Later was dit amper soos die hond jaag die kat maar dit is so warm albei loop. Net sodra Simon nader kom het Leon vet gegee. Wanneer Simon sy asem terug het, het hy vet gegee.
Later was hy gelukkig te moeg en het die aftog geblaas.
Laat ons lag mense!
Kom ons deel ’n paar sportjuweeltjies.
•Wanneer die ou en nuwe Suid-Afrika ontmoet. Lekker! By die Mpumalanga Fietstoer se prysuitdeling het die reënboog in al sy kleure geskyn. Daar was krom Afrikaans en krom Ingels. Alles in ’n gees van samehorigheid. Die Mpumalanga fietsry voorsitter was van Wagenaar, tot Havenaar en Wagener.
Dr PM Lubisi, die agbare MEC, het laat waai met “the only bicycle I can ride is a dikwiel”. Die man van die aand was die seremoniemeester wat vertel het dat hy twee Afrikaanse liedjies ken: “Jan Pierewiet” en “Dis julle wat die wind”. Toe laat waai hy met “dis ’n bóé baaitjie, dis ’n onner baaitjie, disse onnerstebóé baaitjie…”.
•Dit snol en dit hol. Mammas het keelseer van die gil, oumas se hartpilletjies werk oortyd. Dis Interhuis en dis tog te kosbaar. ’n Seuntjie was losvoor. By die eindpunt het hy in trane uitgebars. Toe iemand vra waarom huil hy so, antwoord hy: “Waarom jaag hulle my so?”
•Vreemd! Dat ’n vrou van Broodsnyersplaas wat aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer het, se seun in die kwarteind is van die Australiese Ope! Dan is sy naam nog Tennys! Tennys Sandgren se ma, Lia, was ’n nooi Lourens van Middies.
•John Mitchell het beslis ’n nuwe Paige omgeslaan.
•Een jaar is ’n Blougat (Graad agt) by HTS Middelburg sommer op die eerste dag al Dawid gedoop, daar was ook Blatjang en nou Sparerib. Vindingryk vandag se kênners. Waar Thato Sekgwele aan Sparerib kom sal net die Blougatte weet.
•Daar was die laaste tien jaar slegte tye vir die Bulle:
Nou vaar die Bul ondersteuners al onder mekaar in: “Gaan slaap Kalfie dit is lankal verby jou bedtyd! Die mense kan seker f@#$ praat soos hulle wil, ons is moeg verloor dit is nie te sê ons drink as daar gevloek word nie ek kan jou verseker ek is 100% nigter en raak nie drank!” sê een op die Bulle se webblad, net so.
As dié ou nigter was het hy beslis nie aan die drank geraak nie, hy het dit met een slag, sonder om daaraan te raak, by sy keel laat afglyyy…!
•Nog ‘n ondersteuner het sommer onthul waarom is Frans Ludeke nog nie afgedank nie:
*Hy is bevrind met Jacob Zuma en dus untouchable
*Die BB unie is bang Steve Hofmeyr word aangestel as afrigter
*Hy is al verlede jaar afgedank, maar sy afdankingsbrief is vertraag deur die poskantoor staking.
•Pretoria het sy eie weergawe van Fifty Shades of Grey – hulle noem dit Fifty Shades of Pain – voel elke naweek as die Bulle speel, asof jy met ’n sambok geslaat word.
…word vervolg… kom ons lag mense, kom ons lag! al is dit net ter wille van Ou Toks.
