Sport

P staan nie vir Pro nie – kom ons lag mense

Wanneer jy by ’n losskrum ingaan, is jou oë op die bal gerig. Jy gaan nie in jou wildste drome dink jou naakte waarheid gaan voor ’n vol pawiljoen ontbloot word nie.

Maar pasop wanneer Fanie Vermaak in die nabyheid is!

Belfast en Witbank het teen mekaar gespeel in ’n ligawedstryd toe Vermaak soos ’n stout seuntjie, die Belfast agsteman se broek aftrek. Natuurlik het hy ’n partner in crime gehad in groot Daan Badenhorst.

Terwyl Harris sy broek verloor, het Badenhorst gesorg dat sy spanmaats nie by hom uitkom om te keer nie.

Vermaak was nie net een van die sterkste voorrye wat ooit vir Suidoos-Transvaal gespeel het nie, maar ’n plaatjie by uitstek. Tydens ’n rugbytoer na Oos-Londen het my kamera by die onthaal verdwyn. Het die volgende dag diep bekommerd in die stad se strate rondgedwaal, oortuig dit is die einde van my joernalistieke loopbaan.

Die Maandagoggend in kaptein Jordaan se kantoor gesit om die diefstal aan te meld, toe Pikkie Coetzee bel en sê die kamera is by hom. Die skuldige was Vermaak. Van daardie dag af die kamera soos goud opgepas, wanneer hy in die omtrek was.

Maar kom ons lag weer hierdie week bietjie mense. Daar is darem rede om te lag, nadat onse president die poorte groter oopgemaak het.

•Dit was 24 Junie 1979, ek en Ma het in die sitkamer gesit en boks kyk, Gerrie Coetzee teen Leon Spinks. Spinks met sy hare wat lyk asof hy sy vinger in ’n plug gedruk het.

Gerrie tref met sulke wilde linker en regter haakhoue. Toe met ’n reguit linker, ’n regter, Spinks val, hy is weer op, nog ’n linker, ’n regter, Spinks is weer plat, dis net Gerrie, links-regs en Spinks word byna deur die toue geslaan.

Spring op toe Spinks val en gil: “Hy’s uit, hy’s uit!”.

Pa kom vervaard uit die kamer gestorm: “Wat gaan hier aan, wat’s fout!?” Sit Saterdagaand half een die oggend en kyk hoe boks die kleine Hekkie Budler links-regs, manjifiek! (Het nooit kans gehad om vir Pa skuus te sê dat ek hom so laat skrik het nie).

•Laat weet Gert la Grange hy sien daar speel ’n Gupta in die Indiese Gholf Ope. “Wonder net of sy caddy ’n Zuma is”.

•Bewe ’n hele paar manne en vroue se hardloopbroekies vir die Wild Thing halfmarathon. Hulle weet daar wag ’n bult met die naam Giraffe Neck. Jy begin by die kameelperd se stert en as jy op sy rug is en dink jy is bo, moet jy nog by sy nek uitklim. (As jy bo is moenie vergeet om om te draai en oor die dam uit te kyk nie – hoe sê die kinders? “Awesome!”)

•Was lekker op Loftus danksy die Man van die Losie. Probleem is net, as jy ’n twintigjarige saamvat. Dan is die Campbells se Bietjie Bietjie Lam, Vat My Vas, en Sewe Soene, nie so snaaks nie.

•Nadat die Leeus alreeds in die eerste helfte met die Pumas klaargespeel het, merk iemand op: “Hulle gaan seker nou ook met skoon onderbroeke op die veld verskyn”.

•Park Run, jy parkeer jou kar in die veld en hol vyf kilometer. Deelnemers aan die dorp se eerste Park Run het gou geweet hulle is op die plaas toe hulle hier en daar moes trap tussen die beesmis.

Selfs toe die Observer se fotograaf nader staan, moes daar ’n plekkie geskrop word tussen die mis. En wie sou kon dink jy het so ’n mooi uitsig oor die dorp skaars tien kilometer uit op die Stoffbergpad? Net die wat Saterdagoggend op die plaas gaan draf het.

•Die groot aantrekkingskrag was natuurlik die Comrades legende, Bruce Fordyce, wat op byna sestigjarige ouderdom k&kskene vir die res gewys het.

.•In die ou dae het spanne soos Suidoos bus gery en ’n hamburger gekry as beloning. Die eerste wedstryd saam met die Suidoos-Transvaal A- en B-spanne was na Welkom. Sommer so ou bus, maar daar was ’n luidsprekerstelsel wat natuurlik goed aangewend is deur Robert Brand, die sekretaris.

Op pad terug die oggend het Polla Fourie die kroeg laat oopsluit en ’n paar kaste bier ingelaai. Op Robert se vraag: “Wie gaan hiervoor betaal?” het Polla net geantwoord: “Die unie!” So halfpad terug na Witbank is daar gestop. Dit is toe dat Polla ’n slang vang en met hom in die bus klim, tot groot konsternasie…(Ai, dit was die dae).

•Die spelers wat na Nelspruit reis, sal in detail kan vertel van 1983, toe die WP met al sy Springbokke pakgegee is. Voor aan die reëlings is die kaptein van daardie jaar Richard Cooke.

Dit is nou soveel jare later, maar hy bly die Yster wat hy was…of “Die Engelsman en ’n Gentleman”. (Soos Brian Clarke gesê het: “‘n Goeie klein Engelsman”).

•Die hoërskole sewes word die naweek in Skukuza voortgesit. Manne, as julle ‘n gegiggel hoor kan dit dalk nie jou meisie wees nie, maar ’n hiëna wat lag vir ’n leeu wat op jou wag. (En dan betaal jy vir die gelag).

•Dit is die A en die B en die groot ou C, en die D en die E en die snaakse F, maar oppas vir die P! Lynregter Quintin Immelman het skeidsregter Pro Legoete Saterdag daarop gewys dat Griekwas se Rayno Barnes hom “die P-woord genoem het”. Maar hy is dan P, Pro? (Arme Barnes het net gemompel-mompel en toe die pad gevat kleedkamer toe).

•As daar ’n koelkas kan wees, waarom nie ook ’n vloekhoek nie?

•Die mooiste is Pro se opmerking oor die P-woord: “Ok, you can’t say the word, it’s a family show”. (Pro, soos die Bulle in die eerste helfte gespeel het was dit ’n horror show).

•Waarom gee die “E” ons in elk geval soveel moeilikheid? E-tol, e-bola, e-Suzu en wanneer dit krieket is, is dit ebatsman en efielda.

•Nee hy speel nie vir die ander span nie, hy is ’n Puma, ’n pienk Puma. Old Joe was al ’n haas, ’n HTS Middelburg eerstespan speler, ’n fietsryer, ’n Springbok rugbyspeler en nou is hy ’n Seval Puma.

•Oor besoeke aan Loftus: Jy worstel deur vele tolhekke, etol, die foefenjol wat jou kar oppas, die toegangskaartjie en as jy terugkom staan die lapswaaier daar met ’n groot smile en wys na jou motor waarby daar ingebreek is en sy verskoning: “Sorry!”

•Bars daar die week ’n yslike debat los oor die gehalte van sportjoernalistiek. Dit is nou nadat ’n sportskrywer laat weet het hy mis oom Quintus van Bloues. Skryf JJ Harmse, voorheen van Beeld: “Giggel, giggel. Lees gister in ’n Sondagkoerant die Bokke sal sommer by ’n beseerde speler in Japan inloer…. terwyl die speler minder as 50 kilometer van daardie koerant af rehab doen…en glad nie in Japan is nie.”

•Ja, jy kan hier op Loftus die Bulle boor en daarmee wegkom, maar met die Ingelse pers is dit nie so maklik nie. Wyle Gert Grobler moes dit destyds ontgeld toe Marius Bosman Dodie Weir se knie afgeskop het. Groot Gert moes by die perskonferensie bontstaan onder die Ingelse media se skerp vrae.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button