No woman, no cry. No charcoal, no braai. No Habana, no try
Dat ’n bobbejaan nou vir ewige vrede moet sorg - ’n bobbejaan in ’n dak. Somtyds was ’n mens se pen te skerp en dan sê jy jare later jammer.

Joernaliste hou nooit op skryf nie en joernaliste is soms jammer oor wat hulle geskryf het.
Het vir die redakteur van Vista, Piet Gouws, gaan kuier, kort voor sy dood. Piet het op ’n klein bedjie gelê en met kanker geworstel.
Op die vraag hoe dit gaan was sy siniese antwoord: “Nee jong, besig om dood te gaan, en dis nie nou ’n goeie tyd nie, want ek skryf ’n radiovervolgverhaal”.
Het ’n baie siek joernalis, Nicolaas, na ’n pastoor gevat vir doodsbegeleiding. Toe die pastoor vra wie wil hy hê moet hom vergewe was sy antwoord: “Almal wat ek as joernalis kwaad gemaak het.”
Sit by die Carolina hof waar Ben Badenhorst ’n vrou verteenwoordig wat aangekla was omdat sy ’n bobbejaan onwettig aangehou het. Toe natuurbewaring opdaag, het sy bobbejaan se kind in die dak weggesteek.
Tydens teebreek gaan drink ons koffie en eet Carolinakoek. Kon darem sê jammer vir ’n soms te skerp pen.
Verlede week plaas Loutjie Maritz ’n ou berig oor Ben en ’n klubwedstryd teen Ferrometals waar hy uit ’n losskrum kom en kla dat hy gebyt is. Het toe weer aan Ben gedink, Ben, die bobbejaan, die vrou en Carolinakoek.
Kom ons lag weer die week so bietjie…
•Dinsdag het NG Kanonkop se kenmekaar groep hulle afsluiting gehou en Koos Prinsloo het op byna tagtig sommer net daar opstote gedoen om aangewys te word as Meneer Kenmekaar. Weet darem nie so mooi van die storie dat hy op 100 opstote onder luide aanmoediging aangegaan het na 101, 102, 103…toe nie.
•Was nie lekker om Henning Gericke uitgedos in sy WP baadjie en das langs die veld te sien paradeer Vrydagaand nie. Dit van ’n man wat nader as die Hotel 224 van Loftus af bly en vir Noord-Transvaal op flank uitgedraf het. (Gelukkig is hy terug in blou).
•Mooi die twiet oor Brian Habana: “No woman, no cry. No charcoal, no braai. No Habana, no try”. (Nou kan ons byvoeg: geen dop geen skop, Cyril jy is af van jou kop!).
•Daar was Gerhard Viviers en nou is daar Tokka en Kobus.
Hulle kommentaar tydens die Wallis en Bokke wedstryd:
“Ek kry warm my ou maat, die armyjas maak my warm, van die begin af het ons gesê dit gaan ’n harde wedstryd wees. Gatland sê niks, maar sy emosie wys alles. As ons so voel, hoe moet die mense by die huis voel? Uh, Biggard moet gaan vir die ding-dong-toets, Dan Biggard. Nouja Meneer Wiese, hier gaan ons: Fourie wag om bal in te sit, dit is oorverdowend. Jannie du Plessis, jy moet staan my ou maat, jy moet staan. Kom Suid-Afrika, asseblief manne, asseblief manne, konsentreer, kry ’n goeie skrum. Du Preez wat die skrum voer, Fourie, Du Preez, Fourie du Preez wháááá… briljante spel, Twickenham ontplof, absoluut briljant, skitterende skrum, whááá, Fourie du Preez absoluut, oh ho ho hoe hoe, ek kan dit nie meer hou nie…ons kan mekaar vashou…”.
(Weet nie of hulle toe in mekaar se arms was nie…).
•As hulle so teen Wallis gehááá en hoééié het, wat gaan hulle teen die All Blacks doen?
•Stel iemand voor as Matfield ’n kopskerm wil dra wat die Nuwe Verbeterde Suid-Afrika verteenwoordig, sal dit ’n miskoek moet wees.
•Mens sidder en beef as jy dink waarmee Barend Vergaan volgende jaar vorendag gaan kom. Eers was dit pienk, toe kamoeflering en dalk in 2015 fyn satyn? (Houvas my poeierkwas voor ek kwaad word).
•Dink net hoe gaan hulle lyk in rooi, EFF rooi? (Ellendige Flippen Folstruise). (Tannie dis net ’n grappie, ons kan spel).
•Interessante statistieke uit die ou Observers. Dat die Cravenweek spelers in 1978 gemiddeld maar 79 kilogram geweeg het.
Deesdae is dit seker die gemiddelde gewig in die Laerskole Cravenweek. Het dit iets te doen met spuitnaalde, sekere pilletjies, sekere skommeldrankies of is ons besoedelde groente deesdae soveel gesonder?
•Groblersdal het een koue winternag op Middelburg kom speel. Wyle Dawid van Rensburg was die afrigter. Groblersdal het net vyftien spelers gehad en geen reserwes nie. En toe word een van hulle spelers beseer en hulle het net veertien.
Op daardie stadium het dit reeds sleg gegaan. Met net veertien spelers kon dit net erger.
Langs die veld het ’n man gestaan wat gelyk het asof hy uit ’n Egiptiese grafkelder ontsnap het. Gebandage van oortjie tot kroontjie. Net sy ogies het uitgesteek, sy kakebeen die vorige week gebreek.
“Tóg!” het oom Dawid beveel. Die Mummie het hom verwonderd aangekyk maar getóg.
So was dit toe rugby gevaarlik en seks veilig was. Spelers het met af bene en arms gespeel net om hulle dorp of hulle land se eer te verdedig.
•Sê iemand: “Keith Kirsten se kolf is by Laerskool Middelburg se gholfdag opgeveil”. Dit moes seker ’n graaf of spitvurk gewees het. (Gary Kirsten? Klink meer na die waarheid).
•Dit is vakansie en dis toere. Waar is die dae toe Laerskool Dennesig Bethlehem toe gery het met ‘n bus en van daar af Richardsbaai toe. Een lekker lang toer. Gert Lapa het die kos gemaak, net die beste.
Daar was Brigadier Hendrik Lourens, Alwyn Botha, Christo Janeke, Danie de Beer, Hannes Brits, Leon de Wet, Jan Venter en Oom Boet met sy safaripak. Die Boksombende se Moses.
Daardie jare het die dorp se onmoontlike tweeling, Koos en Buks, nog op Richardsbaai in die karavaanpark gebly.
Na die toer is daar opgepak en Buks het saam met die groepie vroue gestaan toe daar ’n boot verbykom met die naam Wild Cat op. ’n Goedbedeelde kat wat grom, was op die boot geverf.
Die vroue het bloedrooi in alle rigtings gespat toe Buks uitroep: “Kyk daai kat se k!&ters”.
Kom mense, kom ons lag ’n slag…al is dit net ter wille van ou Toks!
