Sport

Hoe gaan White se eerste Bulspan lyk?

Die Jake White span! Wie gaan hy kies? Wie gaan hy weglaat?

Blou Bul rugbyondersteuners is soos opgewonde kinders voor Kersfees met ’n nuwe era wat onder die gewese Bokafrigter wag.

Daar word natuurlik geglo dat White Kersvader gaan wees en die trofeekas, wat al byna in die pandwinkel beland het, weer vol sal maak.
Was dit nie vir die o/19 en o/21 spanne se heldedade nie, was daardie trofeekas seker lankal toe onder die stof.

Dit sou maklik gewees het om span te kies met ’n volledige lys van Bulspelers maar Shaniel Mangaroo, van die Bulle se mediakantoor, sê die groep kan nie bekend gemaak word, voor daar meer duidelikheid is oor die voorgenome kompetisies nie.

Dit is ondanks ander provinsies wat reeds hulle lys spelers aan die media bekend gemaak het.

’n Pluimpie moet veral aan die Pumas gaan waar die jarelange spanbestuurder, Marius van Rensburg, binne ’n japtrap ’n volledige Pumagroep na navrae kon voorsien.

Om die heelagter en losvoorspelers te kies is maklik, maar dit is veral op slot en senter, waar jy moeilik keurder speel.

Gio Aplon sal die nommer 15 trui kry, maar gaan White hou by Travis Ismaiel en Cornal Hendricks of gaan hy sy jong Bulle daar inspan? Veral die groot en sterk Marnus Potgieter kan dalk net die nommer 14 trui kry, maar wat van Hendricks? Is hy vir senter geoormerk? En indien wel, wie gaan sy sentermaats wees? Die oud Waterkloof hoofseun en sewes Bok, Stedman Gans, kan dalk net die uitverkorene wees?

Morné Steyn sal die losskakel wees en Ivan Zyl die skrumskakel en die lostrio Marco van Staden, Arno Botha en Duane Vermeulen.

Slot gaan ’n groot kopkrap wees met Ruan Nortje wat aan die begin van die jaar kookwater rugby gespeel het, maar daar is ook Juandré Kruger, Jason Jenkins, Andries Ferreira en Sintu Manjezi met Walt Steenkamp wat later bykom.

Die voorry sal waarskynlik bestaan uit Trevor Nyakane, Johan Grobbelaar en Lizo Gqoboka.

White se eerste span kan dalk so lyk (of dalk glad nie): Gio Aplon, David Kriel, Cornal Hendricks, Stedman Gans, Marnus Potgieter, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Arno Botha, Marco van Staden, Juandré Kruger, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Johan Grobbelaar, Lizo Gqoboka.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button