Vele voëltjies vir Korb
Ruan Korb het gister vir homself ’n groot geskenk gegee, vele voëltjies!
Die oudleerling van HTS Middelburg was saam met vier ander spelers voor in die SA Ope Gholfkampioenskappe by die Gary Player baan. Korb het saam met Christiaan Bezuidenhout, Matthias Schwab, Dean Burnester en Jacques Kruyswijk op -5 geëindig. Die SA Ope is een van die oudste nasionale toernooie in die wêreld en is in 1903 die eerste keer gespeel, die selfde jaar wat die Middelburg Observer begin het. Korb wat gister sy 27ste verjaardag gevier het, het ook vir HTS Middelburg se eerste gholfspan gespeel. Sportliefhebbers van die dorp sal nie kwalik geneem word as hulle hierdie naweek voor hulle televisiestelle vasgenael sit om Korb se vordering dop te hou nie. Hy het vanoggend 07:30 afgeslaan en sommer op die eerste putjie ’n voëltjie behaal om die nuwe voorloper te word op -6. Die SA Ope is Suid-Afrika se mees prestigeryke toernooi.