Trane, trots en toe triomf
’n Vyfjarige landloopatleet se trane het later in trots verander, waarna hy triomfantelik sy kolwyntjie by die eindpunt gaan haal het.
Klein Bernard Gallary het Saterdag sy eerste landloopbyeenkoms aangepak tydens die Nkangala ligabyeenkoms vanaf die jukskeibane by die Kees Taljaard Stadion.
By die beginpunt het die mannetjie bang trane afgevee toe hy die “gun” in die afsetter se hand sien.

Die bewerasies het na ’n rukkie gewyk toe die afsetter sê dat hy ter wille van hom nié sal skiet nie en hulle net hard en duidelik afgesit sal word.
“Tannie” Petro Strydom het hom ook beloof dat sy by die eindpunt vir hom sal wag met ’n lekker eetdingetjie.

Hy was nog besig om die laaste lastige traantjie af te vee, toe hy hoor “gaan!” en jy sien net stof soos hy hardloop.
Sy klein beentjies kon nie by die ouer garde byhou nie, en baanbeamptes moes soms beduie waarheen hy moes hardloop.
Al was hy heel laaste, het sy gesiggie gestraal van trots en triomf toe hy sy 1km afstand kon klaarmaak en sy kolwyntjie by tannie Petro kon kry.

