Hiasinte, hoek deur vinger, selfoon gesteel, maar karp loop
Potte wat prut met allerlei ‘lekkernye’ vir karps, het die naweek gesorg dat daar reuse karps uit die Roodekoppiesdam getrek is.
Middelburgers Braam Lee, Chris Nortman, Koos Janse van Rensburg en Michael Otto het mekaar die hengelstryd aangesê, langs dié dam, naby Brits.
Braam vertel dat Koos en Chris “kenners” is waar dit kom by voer voorbereiding en dat hulle “Particulmix” saamgevat het vir die hengelekspedisie. Dié mengsel lê eers in water en word dan sommer daar langs die hengelwaters in potte gekook.

Braam “mor” so bietjie dat Koos en Chris baie meer vis as hy en Michael gevang het, maar hy kla beslis nie oor die vet karps wat hulle ook uitgetrek het nie. Alles het egter nie die hele tyd klopdisselboom verloop nie.

Die hiasinte in die water het hengel bemoeilik, ’n hoek het in Braam se vinger beland én boonop is Chris se selfoon een nag gesteel. Dit ten spyt, kyk die manne terug op ’n suksesvolle hengelnaweek waaroor hulle nog vir jare sal gesels.
