Grant druk eerste drie vir Blitzbokke
Suid-Afrika vanaand vasgenael voor televisiestelle vir New York halfeind
Die oud Hoërskool Middelburg rugby kaptein, Grant de Jager, het sy eerste drie vir die Blitzbokke gedruk.
Nadat hy sy buiging verlede naweek in Vancouver vir die Blitse gemaak het, het hy as plaasvervanger opgekom, in die eerste wedstryd teen Nieu-Seeland in die New York-toernooi.
Hy moes behoorlik bontstaan nadat hy die mylpaal behaal het. Daar was ongekende vreugde en sy spanmaats het almal op hom geduik. Die Blitzbokke het uiteindelik met 22-7 gewen.
Dit was ’n behoorlike armdruk teen Frankryk maar ’n drie laat in die kragmeting het Impi Visser en sy spanmaats met 12-5 laat deurskuur.

Laat Saterdagaand het hulle teen Australië met 19-12 verloor, maar nogtans deurgedring na vanaand se halfeindstryd teen Argentinië om 18:50.
Fidji speel in die ander halfeindstryd teen Australië om 18:28.
Indien die Bokke wen en Fidji verloor, wen hulle die reeks.
