Groot stryd in Varsitybeker nie op televisie gewys
Tukkies kan vanaand weer die voortou neem op die punteleer.
Daar is slegte nuus vir liefhebbers van studente rugby.
Die groot stryd tussen Maties en NWU Arende op Coetzenburg in die Varsitybeker word nie vanaand gebeeldsend nie.
Wie ookal besluit het dat die kragmeting tussen die Universiteit Johannesburg en die Sentraal Universiteit vir Tegnologie om 16:45 uitgesaai word en die Shimla kragmeting teen Ikeys om 19:00, het die pot misgesit.
Die aksie wat almal wil sien is in Stellenbosch.
Maties is na sy nederlaag teen Tukkies op die oorlogspad en het sy Kaapse bure, Ikeys, verlede week goed pakgegee.
Die Pukke (klink darem lekker om nog te sê Pukke in plaas van NWU Arende) het ’n sielkundige slag geslaan, deur die voorlopers in die Varsitybeker, Tukkies, in Potch te klop.
’n Reuse stryd word op Coetzenburg verwag, want Noordwes Universiteit is die voorlopers op die punteleer met 21, gevolg deur Tuks 20 en Maties wat saam met UJ op 16 punte is. Ikeys het 15 punte.
’n Bonuspuntoorwinning kan Maties verby die Arende laat vlieg. Afskop 19:00.
Tuks behoort weer die eerste plek op die punteleer in te neem, want hy sal nie maklik deur Durban se Emeris geklop word nie. Afskop is om 19:00 op die LC de Villiers Stadion.
Met die reeks wat einde se kant toe staan is elke punt nou belangrik om ’n tuiswedstryd in die uitspele te verseker, wat op 6 April beslis word.
Die laaste reeks kragmetings in die groepfase vind op 30 April plaas, wanneer Ikeys weg speel teen die NWU Arende, UJ tuis teen Tukkies, Maties in Bloemfontein teen CUT en Shimlas in Durban teen Emeris.
