Wynboere en Griekwas bedreig Airlink Pumas se kroon
Michael Benadie druk in groot SA Beker oorwinning oor die Valke
Groot Michael Benadie was die naweek een van die driedrukkers vir Boland in die SA Beker.
Die oud Laerskool Kanonkop en Hoërskool Middelburg leerling, speel sy rugby vir die Wynboere nadat hy onder andere vir die Pumas en Griffons uitgedraf het.
Hy speel slot.
Boland een van voorste spanne
Die Bolanders is een van die voorste spanne in die SA Beker kompetisie en het die Cheetahs in Bloemfontein geskok.
Boland het die naweek ’n groot oorwinning van 73-24 oor die Valke behaal.
Griekwas op die oorlogspad
Na sy honderdtal teen die Luiperds was Griekwas weer op die oorlogspad met ’n 97-7 oorwinning oor die Grens Bulldogs.
Griekwas en Boland lyk al meer na die twee spanne wat Jimmy Stonehouse se Pumas kan onttroon.
Die Pumas, huidige houers van die SA Beker, was wel voor teen die Vrystaat Cheetahs toe die wedstryd afgelas is as gevolg van die swaar weer.
Albei spanne het twee punte verdien.
Ander uitslae
Heyneke Meyer se SWD Arende het geswoeg om die Oostelike Provinsie met 26-22 te verslaan.
Die Griffons het die Luiperds met 29-23 geklop.
Bepalings
- Die Airlink Pumas speel Vrydagaand om 19:00 in die Mbombela Stadion teen die Valke.
- Griekwas pak die Griffons om 15:00 in die Suzuki Stadion in Kimberley.
- Die Cheetahs is om 15:00 op Shimlapark in aksie teen die Oostelike Provinsie.
- Die agterosse, Luiperds en Grens Bulldogs, speel in Potchefstroom om 15:00.
- ’n Kragmeting waarvoor rugbyliefhebbers hulle lippe kan aflek is op Outeniqua Park, George, waar die Kaapse spanne, die SWD Arende en Boland, mekaar Satredag om 15:00 pak.
Dit is druk soos ’n taxistaanplek op die punteleer met Griekwas en Boland op 15 punte na drie wedstryde en die Airlink Pumas en SWD Arende op 12 elk.
