Ben beseer in Tuks se naelskraapse sege
Varsitybeker bereik spannende einde in reeks se pylvlak
Houvas julle sitplekke, hier kom drama soos nog nooit gesien in die Varsitybeker nie.
Met net een reeks wedstryde oor in die groepfase, kan enige van drie spanne nog bo aan die punteleer eindig.
Maak of breek
Tukkies gee die pas aan na ’n naelskraapse sege oor Emeris gisteraaand in Pretoria met 26 punte, gevolg deur die NWU Arende op 23. Maties en UJ het 21 punte en Ikeys 17.
Dit is eerskomende Maandag maak of breek om te bepaal wie speel tuis en wie speel weg.
Tuks is weg teen UJ, Maties reis na Bloemfontein om CUT te pak, NWU is tuis in aksie teen Ikeys en Emeris pak Shimlas in Durban.
Groot Ben beseer
Tydens gisteraand se wedstryde het Tuks lank agtergeloop voordat hy die sukkelende Emeris met 27-24 kon klop.
Christiaan Vlok, wat ’n ster senter was vir HTS Middelburg, is vir die kragmeting gerus.
Ben Janse van Vuuren, oud Middie, het op nommer vier slot begin, maar is al in die eerste helfte van die veld met ’n skouerbesering, waarvan die erns eers vandag bepaal sal word.
Groot Ben is die hart van Tuks se enjinkamer en dit sal ’n reuse slag wees as sy Varsity seisoen verby is.
Toy skitter
Maties het op sy tuisveld net-net met 30-26 teen die NWU Arende gewen.
Shimlas het Ikeys in Bloemfontein met 40-33 geklop.
Toy Engelbrecht, oud Rooi Bul, het in UJ se sege van 29-13 teen CUT ’n drie gedruk en weer ’n bulvertoning opgedis.