Grant sê elke span kort ’n Tricky Ricky
Witkop Blitzbok praat opgewonde oor sy eerste drie teen Nieu Seeland in New York.
Die fondasie wat by Hoërskool Middelburg gelê is, waar hy eerstespan rugby kaptein was, het hom gestaal om die Blitzbokke met onderskeiding te verteenwoordig.
So sê die nuwe Blitzbok uit Middelburg, Grant de Jager.
Twee van die bekendste Blitzbokke uit hierdie geweste was Kwagga Smith en JC Pretorius, maar daar was ook Dirk Dippenaar (Hoërskool Middelburg) en Deon Helberg (HTS Middelburg).
Die Witbanker, Shaun Venter, is deur die Bokke raakgesien, toe hy by die jaarlikse Hoërskool Middelburg sewes toernooi vir die Puma sewes uitgedraf het.
Nuwe Blitzbok uit Middelburg
“Die jare by Hoërskool Middelburg het my geleer om met verskillende kulture oor die weg te kom. Dit het my laat besef dat elke speler uniek is. As kaptein moes ek leiding neem deur harde werk en om spelers te motiveer om ook hard te werk. Daardie harde werk het my bygebly.”
Maar wat was sy belewenis om in Vancouver vir die eerste keer saam met die Blitzbokke op die veld te draf?
“Dit was ’n droom wat waar geword het. As seuntjie mik jy vir die sterre. Dit was amazing om daar uit te kom. Ek sal nooit die gevoel aan iemand kan verduidelik nie. Al wat ek kan sê, dit is ’n gevoel wat ek wens ’n mens een keer in sy lewe sal beleef. Om saam met die ander spelers op te draf was ’n belewenis en groot eer. Hulle het dit baie maklik gemaak om net te kan speel.”
Drie teen Nieu Seeland
Oor sy eerste drie in die Boktrui sê hy “dit was een van my hoogtepunte van die twee toernooie. Om teen ’n span soos Nieu Seeland te druk was ongelooflik. Toe die hele span na my toe hardloop om my geluk te wens, was baie spesiaal.”
Was dit nie ’n groot aanpassing om van 15-man na sewes te skuif nie?
“Dit was ’n aanpassing. Wat ook ’n groot aanpassing was, is om te leer haak in die skrums, want jy kan van albei kante die bal haak, so my dom voet “linker voet” sukkel so nou en dan, maar dit raak beter. Optel in die lynstane het ek nog nooit gedoen nie. Ek wil ook baie graag nog leer spring in die lynstane wat vir my ’n lynstaan opsie kan bied.”
En die werksetiek waarvoor die span so bekend is?
“Ja, daar is ’n groot werksetiek want ons wil die beste 7’s sisteem wees in die wêreld. Almal wil harder werk en beter word. Ek is in ’n goeie omgewing om ’n beter speler en persoon te word.”
Die vraag sal altyd wees, sewes of vyftienman? Veral nadat hy so goed gevaar het in die Varsitybeker vir Maties. Op hierdie stadium lyk dit asof sewes wen.
“Ek kan nie kies tussen die twee nie. Ek hou baie van albei, maar as ek een moet kies, kies ek sewes. Dit is waar mens in ’n breukdeel van ’n sekonde besluite moet maak. Dit is net sewe teen sewe, wat baie opwindend is. Daar is meer vertroue van spanmaats en as jy sewes kan bemeester, wat ek nog ver van is, sal jy verseker beter wees in 15-man rugby.”
Sy studies bly nie agterweë nie en hy werk hard om sy graad by die Stellenbosch Universiteit klaar te maak.
En wie is die groot grapmaker by die Blitzbokke en wie is die ernstige speler?
“Tricky Ricky, Ricardo Duarttee, is verseker die grootste grapmaker in die span. Ek dink elke span kort so speler. Impi Vsser is die ernstige een, maar ek dink dit kom met sy goeie leierskap. Dit is nie jy stress ernstige gevoel nie, maar ek is reg om te speel en om my alles te gee.”
