Professor Anna wou weet wie het Kallie karnuffel
Bok kaptein onthou nostalgiese en sorgvrye dae op Middelburg.
’n Skatkis van herinneringe.
Van professor Anna Neethling-Pohl tot Bok kaptein Wynand Claassen se sorgvrye grootwordjare op Middelburg.
’n Berig oor die Blesbok rugbyspan twee dae gelede op die Middelburg Observer se webblad, het die skatkis van herinneringe ontsluit.
Van reg oor Suid-Afrika het oud Suidoos-Transvaal en Blesbok (B-span) rugbyspelers reageer.
Piet Craven was kaptein van die saamgeskraapte Blesbok span wat in 1980 op Loftus Versfeld teen Noord-Transvaal se B-span gespeel het.

Craven sê hy onthou die wedstryd nog goed.
“Kallie het my by die onthaal voorgestel aan professor Anna Neethling-Pohl. Sy wou net weet wie het Kallie so karnuffel, want sy was ’n groot Kallie ondersteuner”.
Daar was ’n paar geharde spelers in daai Blesbok span soos die Meintjies broers Willie en Manie. Ouboet Willie was bekend vir sy dodelike laagvatte.
Die haker, Arrie Myburgh, het ook vir Suidoos-Transvaal gestoei.
Hantie Lombaard was ’n reus van ’n man.
Die heelagter, China Vorster, het vir Wes-Transvaal en later vir die Grystruie gespeel. Losvoorspeler Jan Harris was lid van ’n Belfast span wat ’n verskrikking was by die “Veld van die Langbome”.
Dit is geen wonder ou Kallie, wat meer bekend was as swaargewig bokser, het ’n paar keer bly lê nie.
Professor Pohl was legendaries, sy het vanaf 1944 tot en met haar dood in 1992 die hoofrol in meer as 50 verhoogproduksies vertolk. Sy het verskeie boeke geskryf en ontvang die Langenhoven-prys asook die Vaderland-prys vir haar uitmuntende skryfwerk.
Springbok kaptein, Wynand Claassen, sê hy was in matriek toe Craven ’n groentjie was by Hoërskool Middelburg.
“Ons vriende het naweke na oom Danie Snyman se swemgat, Seekoeigat, toe gegaan op die Loskopdampad om te kamp, swem en te braai. Dit was wonderlike tye.”
Claassen het na sy speeldae by Tukkies ook vir Natal uitgedraf.
Verskeie spelers het ook foto’s aangestuur van hulle Blesbok baadjies.

Een van hulle is Leon van den Berg wat in die sewentigerjare ’n staatsaanklaer op Witbank was. Het ’n berig oor hom geskryf onder die opskrif “Die skoppende aanklaer”.
Hennie Schoeman wat losskakel vir Belfast gespeel het, het laat weet “my eerste paar wedstryde vir Suidoos was ook vir die Blesbokke. Ek was toe in my vierde jaar op Pukke. Dit was ook die eerste jaar wat ek vir Suidoos-Transvaal gespeel het.”
Schoeman het ook ’n paar berigte aangestuur.
Die bekende oud koerantman, Joe Venter, skryf in ’n voorskou dat Transvaal se Rooibokke te veel skietgoed vir die Blesbokke het in ’n voorwedstryd op Ellispark.
Die Rooibokke was: Hempas Rademeyer, Leon Piek, Swys Joubert, Jurie Fourie, Lee Barnard, Wim Hancke, Barrabas Venter, Bruce Ochley, Francois Bartmann, Tommy Bosch, Pierre Bucholtz, Willie van Rensburg, Wahl Bartmann, Chris Pieterse.
Blesbokke: Bakkies Lourens, Pieter Bruwer, Sarel Joubert, Martin Gloudech, Les Lachenicht, Hennie Schoeman, Louis Pietersen, Danie Korb, Whitey Buitendach, Terence Moll, Pieter Mostert, Ben Schoeman, Christo Dinkelman, Whitey Groenewald (k), Louis Botha.
Spanne is daardie jare van heelagter tot by skrumskakel genommer en dan van voorry tot agsteman. Die Blesbokke het 53-21 verloor.
Nog ’n koerantman, Henk Steenkamp, sê hy het ’n Blesbok trui as geskenk gekry, ’n nommer 16 wat lyk of dit die plaasvervanger skrumskakel was.

Willie Oosthuizen wat vir 4SAI uitgedraf het, het laat weet dat hy sy Blesbok trui vir versamelaar Willem du Preez geskenk het.
Uit alle oorde was die boodskap; “die Suidoos-Transvaal geskiedenis gaan vinnig verlore, dit sal iewers bewaar moet word”.

Intussen het Arrie Myburgh gesê hy gaan ’n vergadering hou waar Laeveld, Suidoos en oud Puma spelers moet besluit oor ’n pad vorentoe vir ’n oudspelersvereniging.
