Sport

Langeraat help Pumas teen Valke wen

Twee voormalige skoolrugby-aartsvyande, Valera Breytenbach en Michael Versfeld, het Saterdag saam vir die Pumas se o. 21-span uitgedraf.

Op skool was hulle aartsvyande. Saterdag het hulle die Puma o. 21-span gehelp om die Valke te oorrompel.

Valera Breytenbach het vir Boland Landbou uitgedraf en Michael Versfeld vir Hoër Jongenskool Paarl Boy’s High.
Boland Landbou is geleë op die plaas Langerug buite die Paarl en Boishaai, soos die skool algemeen bekend is, aan die voet van die Paarlberg.

Die twee is ver verwyderd van die skone Wes-Kaap besig om vir hulle ’n rugbyloopbaan op Mbombela uit te kerf.

Albei draf vir die Pumas se o. 21-span uit in die nasionale reeks.
Breytenbach op flank en Versfeld op slot.

Die Puma o. 21-span wat die Valke geklop het. FOTO’S: Verskaf/Conrad Breytenbach

Die jong Breytenbach woel onder die voorspelers. Anders as sy pa Conrad wat vir Hoërskool Middelburg op skrumskakel uitgedraf het en later in die skaduwee van Joost van der Westhuizen vir die nommer nege trui by die Blou Bulle meegeding het. Hy is later met groot sukses op vleuel ingespan.

Versfeld is ’n langeraat wat bokant sy oud-Kapenaar teenstander uittroon.
Die jong Pumas het Saterdag in hulle eerste ligawedstryd met 47-26 teen die Valke in die Barnard Stadion op Kempton Park afgereken.

Die Pumas speel Saterdag, 5 September, in Kimberley teen Griekwas as die hoofvoorwedstryd voor die Curriebeker-halfeindstryd tussen Griekwas en die Leeus.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button