Man verdwyn na ongeluk
Mnr. Gerhard van Noordwyk sê dat hy en sy vrou op 21 Oktober vanaf Middelburg onderweg was na die buurstad toe daar ‘n grys Toyota dubbelkajuit bakkie voor hom ingedraai het by die Midlands Kantoorpark kruising. Hy kon nie gou genoeg ankers aanslaan nie en het met die bakkie se passasierskant gebots. Die bestuurder van …
Mnr. Gerhard van Noordwyk sê dat hy en sy vrou op 21 Oktober vanaf Middelburg onderweg was na die buurstad toe daar ‘n grys Toyota dubbelkajuit bakkie voor hom ingedraai het by die Midlands Kantoorpark kruising.
Hy kon nie gou genoeg ankers aanslaan nie en het met die bakkie se passasierskant gebots.
Die bestuurder van die bakkie, ‘n ene James Maimela, het nie ‘n bestuurderslisensie by hom gehad nie en die bakkie se lisensie het ook voor die botsing verval.
Die verkeersdepartement was eerste op die toneel en het met beide bestuurders gepraat terwyl paramedici na me. Van Noordwyk omgesien het.
Toe die polisie opdaag het die verkeersmanne in hul motors gespring en die saak in die hande van die manne in blou gelaat.
Mnr. Van Noordwyk sê dat hulle lank met die bakkie bestuurder staan en gesels het en dat hulle hom sy lisensie gevra het, maar min geskeel was omdat die ander man nie een het nie.
“Ek het die polisie hard en duidelik daarop gewys dat die man sonder beide sy wettige lisensies op die pad is,” sê hy.
Daar is ooreengekom dat mnr. Van Noordwyk se verklaring die volgende dag afgeneem sou word, sodat hy sy vrou na Midmed kon vergesel.
Toe hy die volgende dag by die polisie kom was daar niks gemeld in die botsingsregister nie en mnr. Van Noordwyk moes die botsing aanmeld vir versekeringsdoeleindes.
“Ek sit met R150 000 se skade en die bestuurder van die bakkie is skoonveld, na maande kon ons nog nie op sy spoor kom nie,” kla mnr. Van Noodwyk wat vier maande se buitensporige karhuur moes betaal om oor die weg te kom.
“Moet mens respek hê vir so mag?” vra hy, “beide het my, die wetsgehoorsame, lelik in die steek gelaat”.
•Die nommer wat deur Maimela op die toneel verskaf is behoort aan ‘n Kleurling vrou wat sê sy ken hom nie.
•Die polisie het die registrasienommer van die bakkie nagegaan en geen eienaarskap kon gevind word nie.
gerhard@mobserver.co.za