Twee vertonings vir die prys van een
Omkring 14 Augustus met 'n rooi pen, want op dié dag kan jy twéé vertonings vir die prys van een gaan kyk by die HTS Ouditorium.
Almal het al gehoor van die skreeusnaakse eenman komedie, “Annale van ‘n Windgat” (met Craig Morris) en die opvolg. “Jou Gat my Skat” (met Marrisa Drummond en Cobus Venter). Beide hierdie vertonings word dié aand aangebied.
• Annale van ‘n Windgat handel oor persoonlikheidstipes en kommunikasiestyle. In hierdie teaterproduksie word die woord “gat” in sy idiomatiese vorm gebruik as uitdrukking van mense se persoonlikhede: soos “Jy het nie ‘n gat nie, jy is ook nie ‘n gat. Jou lewe draai om jou…gat!”
Craig gaan die vier gatte “windgat, hardegat, slapgat en banggat” vertolk. Die gehoor gaan gaande wees oor die vertoning, omdat hulle hulself en ander mense om hulle met nuwe oë sien. Dit is skreeusnaakse oomblikke met diepte.
Gaan kyk gerus en word “Gat-gefikseerd”!
Annale van ‘n Windgat begin om 18:00 en is net ‘n rapsie langer as ‘n uur. Na die vertoning sal daar ‘n 45 minute breek wees, waarna “Jou Gat my Skat” sal volg. Ook hierdie vertoning is nie langer as ‘n uur en 10 minute nie.
• “Jou Gat my Skat” is die derde uit die pen van Barry van Rensburg. Teenoorgesteldes trek mekaar aan (en soms uit).
Hierdie vertonings is ‘n komiese besoek aan die twee opperste pole in die samelewing: “hardegat” en “slapgat” en die botsende persoonlikhede binne die huwelik onder die loep.
Die natuurwet dat teenoorgesteldes mekaar aantrek, sorg vir oneindige humoristiese situasies, uniek waarmee elkeen in die gehoor kan identifiseer. Hierdie vertoning is ook ‘n komedie met diepte – dit wil mense met ‘n groter insig oor die lewe en oor menswees laat.
Dit is skreeusnaaks en sonder vloekwoorde of vulgariteit.
Kaartjies beloop R150 by ‘n tafel of R80 op die galery. Vir meer inligting bel 083 629 1147.