EntertainmentLifestyle

Buitelewe Skou lok 4 000

Sowat 4 000 mense het oor die naweek na die Buitelewe Skou by De Voetpadkloof gestroom en hooforganiseerder Koos Kleinsmith is in ekstase oor die dawerende sukses van die skou.

“Met uitsondering van net een uitstaller, het ál die ander uitstallers reeds bespreek vir volgende jaar se Skou wat op 15-16 Augustus by De Voetpadkloof gehou sal word!” het hy opgewonde gesê.

Die Buitelewe Skou het gespog met 60 uitstallers (kosstalletjies ingesluit) en die meeste van die uitstallers was sommer al Saterdagaand uitverkoop. “Een ou is omtrent net met sy onderbroek hier uit, want hy het álles in sy stalletjie verkoop!” Sommige van die ander uitstallers moes Sondag net bestellings neem vir aflewerings omdat ook hulle uitverkoop was.

Mnr. Kleinsmith sê dat van die uitstallers aangedui het dat hulle volgende jaar sommer vier uitstalruimtes wil hê. Hy sê hy is oortuig daarvan dat hulle volgende jaar se skou kan uitbrei tot 80 uitstallers. Daar sal ook gekyk word om méér stalletjies te hê wat iets vir vroue bied.

As hy terugkyk op die 2014 Buitelewe Skou, is sy stem deurspek met trots.

“Die skou het sonder voorvalle verloop. Niemand was onder die prop nie en ek moes nooit iemand aanspreek nie. Dit was ‘n hengse fees met ‘n fantastiese karnaval-atmosfeer. Almal het saamgewerk.”

Die 2014 Buitelewe Skou was vir almal ‘n leerskool en daar is klein goedjies waaraan hulle veral aandag sal moet gee, soos die kwessie van genoeg parkering.

Hy voel ander oorde in die omgewing en die gemeenskap kan in 2015 ook méér saamwerk ten opsigte van akkommodasie, sodat mense van ander dorpe na die skou gebring kan word.

En moenie dink hulle kan nou agteroor gaan sit en ontspan nie! Die eerste beplanningsvergadering vir die 2015 skou is al oor twee weke!

“Ons bly in die beste dorp in die land! Ons staan nie terug vir enige ander skou in die stede nie!”

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button