Musiekoorlog teen die haan
Elke haan kraai koning op sy eie mishoop, maar in Aerorand is 'n tromboon baas.

Met dié donderende geskal het ‘n inwoner van Hoekbergstraat Dinsdagoggend oorlog verklaar teen dié haan.
“Ek wonder wie hy was, want ek wil vir hom sjokolade koop!” het me. Melanie van Rooyen Woensdagoggend gesê.
Almal in Hoekbergstraat weet al van die haan wat die afgelope drie weke klokslag kort na 03:00 keel skoonmaak. Almal het stilweg gemor…tot Dinsdagoggend.
Haan se kind se eerste wakkerwordkraai het nog nie eers behoorlik inwoners se ore bereik nie, toe ‘n onaardse geluid die haan se kraai verstar laat ophou. Iemand het met ‘n tromboon (skuiftrompet) gewys dat hy harder as die haan kan “kraai”.
Me. Van Rooyen sê sy was siekerig en het kort voor die kabaal nog twee pynpille gedrink vir ‘n seer keel, toe sy eers die kortstondige kraaitjie hoor en toe die musiek. Sy het haar eers boeglam geskrik en toe saam met vele ander mense begin “kraai” van die lag.
Die son het pas sy kop uitgesteek, toe sy die volgende Facebookboodskap plaas: “10 uit 10 vir die ou wat vanoggend 03:30 musiek gemaak het vir die hoendereienaar in Aerorand. Ek hoop jy pla hom net soveel soos sy hoender se ontydige gekraai ons almal pla!”
Me. Van Rooyen sê sy is ‘n diereliefhebber, maar dat die gekraai almal uit die slaap uit hou.
• ‘n Paar jaar gelede het iemand dié advies aan ‘n joernalis gegee (toe haar Kapokhaantjie die bure elke oggend uit die vere gejaag het): Al wat ‘n mens moet doen, is om die haan in die aande in ‘n boksie of hokkie te sit, dat hy nie sy kop kan oplig om te kraai nie. Sodra die son opkom, kan jy hom maar weer uitlaat.
• Dr. Leon Connoway (veearts) sê hy glo ook die raad kan werk.
Mense wat egter sover wil gaan om die kraai uit hul haan te haal, kan hom vat vir ‘n operasie by ‘n voëlspesialis. “Sy kraai word dan letterlik toegemaak!”
Aan die onderkant van die slukpyp van die haan (net voor dit vertak na die longe), is ‘n klein, plat gedeelte, wat die stembuisie genoem word. Tydens die operasie word ‘n gaas daaroor geplaas, sodat hy nie die kraaigeluid kan maak nie.
Hy stem egter saam dat ‘n donker boksie ‘n baie makliker oplossing is, as om sy kraai uit te haal.
‘n Mens wonder nou net wie is die eienaar van die haan en of “geen haan nou verder daaroor gaan kraai nie.”