Glo hardhandig gearresteer

Minstens agt verkeersmanne het Vrydag 05 September op 'n man toegesak en hom so geslaan dat hy na sy vrylating ure later, mediese behandeling moes ontvang.

Mnr. Stephan Jordaan, wat in 2011 maande lank in ‘n koma was na ‘n fietsongeluk, sê hy is die oggend versoek om ‘n vriendin, Lizelle van Heerden, ‘n epilepsielyer wat nie mag bestuur nie, dorp toe te neem.

Omstreeks 11:50 was hulle in Cowen Ntulistraat onderweg toe Lizelle vra om gou by die groentewinkel oorkant KFC te stop.

Omdat hy in die teenoorgestelde rigting gery het, het hy vinnig omgedraai en by ‘n oop parkering gaan stop.

“Die volgende oomblik was ‘n verkeersvrou op my saam met ‘n groep van seker 20 mans in sokkerhemde,” vertel mnr. Jordaan.

Hy sê nadat hy sy lisensie oorhandig het, het die verkeersvrou dit “opgefrommel” waarna hy uitgeklim het om dit terug te vra.

“Dis toe dat iemand my van agter met ‘n staalvoorwerp oor my kop slaan.”

Hy is verskeie maal van alle kante geslaan en ‘n ooggetuie wat foto’s van die hardhandige arrestasie geneem het, het Maandag aan die Observer vertel “die man was die heeltyd kalm en hoflik, die aggressie waarmee die groep hom gearresteer het was absoluut onnodig”.

Mnr. Jordaan sê hy is geboei en kop eerste agter in ‘n vangwag gegooi, waarna hy polisiestasie toe geneem is.

Daar het hulle ‘n steeds geboeide mnr. Jordaan weer kop eerste by ‘n stel trappe afgegooi voordat hy toegesluit is saam met verskeie ander aangehoudenes.

Hy is ‘n oproep geweier maar gelukkig het me. Van Heerden intussen haar man, Proppies, van die drama in kennis gestel en hy kon daarin slaag om prokureur, Drikus Lombaard, in die hande te kry wat eindelaaste mnr. Jordaan se borg betaal het.

Kort na sy vrylating omstreeks 20:00 is hy vir X-strale en mediese behandeling om ‘n oop kopwond te heg.

Mnr. Jordaan het talle breinoperasies ondergaan na die fietsongeluk.

Na sy driemaandelange koma, het hy ongeveer ses maande se rehabilitasie ondergaan, en minstens ‘n jaar in die hospitaal spandeer voor sy ontslag.

Hy moes sy makelaarsbesigheid verkoop en het verskeie luukse eiendomme verloor gedurende die hospitalisasietydperk.

Hy sukkel die afgelope paar jaar om vaste werk te kry weens die feit dat hy ongeskik verklaar is.

“Ek is baie verlig dat daar nie blywende skade aangerig is nie,” sê mnr. Jordaan wat beveel is om Maandag 09:00 in die hof te verskyn, waar die saak uitgegooi is.

Plaaslike verkeersmanne woon al die afgelope paar maande woedebeheer kursusse by, na klagtes van aanrandings van die publiek.

Die veiligheidshoof, mnr. Ahmed Seedat, het tydens sy aanstelling ‘n tydjie terug genoem dat hy hom daarop gaan toespits om van dié verkeersmanne ontslae te raak.

Mnr. Stephan Jordaan sê hy't niks verkeerd gedoen nie, en volgens 'n ooggetuie, praat hy die waarheid.
Mnr. Stephan Jordaan sê hy’t niks verkeerd gedoen nie, en volgens ‘n ooggetuie, praat hy die waarheid.

In dié geval staan hy egter in die hoek van die wetstoepassers omdat hy Maandag bevestig het dat hy self op die toneel was Vrydag, en die nodige krag gebruik is om mnr. Jordaan onder bedwang te bring “nadat hy die verkeersvrou sonder rede geklap het”.

“Ek was in die einste vangwa waarmee mnr. Jordaan stasie toe vervoer is,” het mnr. Seedat bevestig.

Hy sê mnr. Jordaan is bekend aan hom omdat hy gereeld by die verkeersdepartement opdaag “en aandring op ‘n lisensie wat hy nie het nie”.

Oor wat hy daarmee bedoel het mnr. Seedat geantwoord dat mnr. Jordaan volgens hulle sisteem sonder ‘n rybewys rondry.

“Ek ken die man, ons het al verskeie maal vantevore oor die lisensiedebakel geargumenteer,” sê mnr. Seedat wat bygelas het dat hy Maandag weer om ‘n tafel met mnr. Jordaan sou sit om ‘n middeweg te vind.

One Comment

  1. This guy should sue!!!!!!!!!!!!!! Police seem to think they are above the law and do as they please.

Back to top button