Update

Opvolg: Nkosi lieg dalk oor ouderdom

'n Bron wat jare lank in diens van die Belfast Kinderhuis was, het die week gesê dat die hooggeregshof mislei word deur een van die vermeende vrieskasmoordenaars van mnr. Koffie en me. Elna van Heerden, wat beide op 9 Januarie 2013 in 'n leë vrieskas versmoor het.

Die saak is die week weer uitgestel tot 17 Desember omdat een van die advokate nie gereed was vir Dinsdag se verrigtinge nie.

Drie jong mans, Bongani Joseph Ncongwane (23), Irvin Brown Nkosi wat volgens die klagstaat nou 19 is, en Sibusiso Charles Sibanyoni (27), staan tereg vir die moorde.

Die bron het dié week gesê dat Nkosi oor twee dinge lieg, sy ouderdom en oor die feit dat hy in die kinderhuis opgegroei het.

Nkosi was net een jaar, tussen sy 12de en 13de verjaardae, in die kinderhuis na sy opname op 26 Februarie 2004.

Volgens die geboortesertifikaat wat by die kinderhuis ingedien is, is Nkosi op 2 Julie 1993 gebore, en is hy reeds mondig.

Nkosi is reeds in die binneverhoor waar hy getuig het dat die polisie hom sou martel vir ‘n bekentenis en uitwysings, as onbetroubare getuie deur die hof uitgewys.

Sy gedrag in die hof laat ook veel te wense oor, hy lag en grap aanhoudend en lê openlik by vroue, insluitende Observer joernaliste, in die openbare gallery aan.

Toe die Observer hom afneem het hy dit as ‘n reuse grap beskou en met sy middelvinger in die lug gesit vir ‘n foto.

Hy het tydens die fotosessie aan die joernalis genoem dat hy “nooit sal tronk toe gaan nie,” en is deurlopend deur ‘n Shembe kerklid, wat later deur openbare lede aan die Observer geïdentifiseer is as “die vuurheks” ondersteun.

Die Observer het tydens een van die hofsessies gehoor hoe Nkosi deur die vrou berispe is omdat hy nie sy moetie getrou gebruik nie.

Sy is later dieselfde dag, nadat die regter beslis het dat beide Nkosi en Sibanyoni se bekentenisse en uitwysings in die verhoor tot die rekord toegelaat word, in ‘n hoftoilet gaan sit waar sy duidelik gehoor sê is “die moetie werk nie”.

Beide het beweer dat hulle nié die bekentenisse en uitwysings vrywilliglik gedoen het nie.

Ncongwane, wat tydens die binneverhoor getuig het dat Nkosi die voorbok in die huisbraak en moorde was, en mnr. Van Heerden se kop by die vrieskas ingeskop het omdat hy te lank was, word nié deur die “vuur-heks” in die hof ondersteun nie.

Sy eerste advokaat het onttrek nadat hy sy skuldige pleit na onskuldig wou wysig.

Back to top button