Seuntjie pleit by rower

"Weet jy hoe voel dit as hulle jou tweejarige kind aan sy been gryp waar hy lê en slaap en dreig om hom te skiet, of hulle vat jou 10-jarige seun uit die kamer uit met 'n pistool teen sy kop en jy wag vir die skoot? Jou keel trek toe, jou hart gaan staan, jy haal nie asem nie. Ek wens dit vir niemand toe nie."

Antoinette Human vertel van die gebeure wat hom op die plaas Welgevonden afgespeel het Woensdagnag. Gebeure wat jy nie in jou wildste nagmerrie kan opdroom nie.

Sy het haar jongste Tristen (2) teen 19:30 gaan neerlê en saam met haar oudste, Tesner (10), voor die televisie gewag vir hul pa, Jaco van Wyk, om van die melkstal af te kom vir aandete. Toe die deur oopgaan was dit nie mnr. Van Wyk wat ingestap het nie.

Drie mans het haar in Engels beveel om stil te bly. Hulle het dadelik aangedring op geld.

Kort op hul hakke het ‘n reeds beseerde mnr. Van Wyk ingekom. Hy was vasgebind en het ‘n kopwond gehad waar hulle hom met ‘n geweerkolf geslaan het.

Die drietal is na die hoofslaapkamer gevat, waar die mans aanhou vra het vir geld. Me Human het vir hulle die kluis, wat leeg was, oopgesluit.

“Hulle het heeltyd aanhou vra waar die geld is en gesê dat hulle informasie het dat daar ‘n klein kluisie in die huis is waarin daar baie geld is.”

Daar was minstens agt rowers betrokke, almal was gewapen en niemand het hul gesigte verberg nie. Een van die mans was veral senuagtig en het heeltyd gedreig dat hy iemand gaan skiet.

Die paartjie se oudste seun Tesner en sy pa Jaco van Wyk.
Die paartjie se oudste seun Tesner en sy pa Jaco van Wyk.

Hy het die slapende Tristen aan die been gegryp en geskree: “I am going to shoot your son! Where is the money?”

Me. Human sê dat sy teen die bed vasgedruk en vasgebind is. Die man het geweier dat sy haar kind vertroos. ‘n Ander rower het haar kind aan haar gegee en sag gefluister: “Keep your son quiet or they are going to shoot him.”

Buiten vir die drie wat by hulle in die kamer was, het daar nog rowers met hul ses werkers ingekom. Die tiental is almal in die kamer aangehou. Die aggressiewe rower het weereens geskree oor die geld en toe vir mnr. Van Wyk in die been geskiet. Kort daarna het hy nog ‘n skoot afgetrek, hierdie keer is ‘n werker in die boud en bo-been gewond.

Hy het die familie se pleidooie dat daar nie geld in die huis is nie geïgnoreer en hom toegespits op Tesner. Hy het hom uit die kamer gevat en beveel dat hy vir hom al die kamers wys.

Me. Human sê dat sy haar kind hoor pleit het: “Please sir, there is no money.”

“Jy weet nie of jy jou kind weer gaan sien nie. Jy lê daar en bid…wag vir die skoot.”

Sy het intussen daarin geslaag om haar jongste weer aan die slaap te sus. Me Human sê dat die rowers baie goeie inligting oor hul doen en late gehad het. Hulle het geweet hoeveel keer per week die melklorrie kom melk haal en ook van haar winkel in Saaiplaas en hul aflewerings in Groblersdal. Verduidelikings dat die geld elektronies oorgeplaas word, wou hulle nie hoor nie.

Die rowers het in hul soektog ingeboude kaste uit die mure geruk. Hulle het ook by die dak ingeklim en stukke van die plafon uitgeruk, opsoek na die kluis.

Toe hulle besef dat daar nie geld is nie, het hulle teruggekom vir me. Human se juwele en ook die groep se selfone gesteel. Hulle is vort met een van die voertuie se sleutel asook die hek se afstandbeheer.

Nadat die groep vir lank stil gelê het, het Tesner daarin geslaag om sy pa se knipmes uit sy sak te haal en homself los te sny. Toe almal los is, het me. Human met haar twee kinders na die buurman, Pieter Prinsloo, gevlug vir hulp.

Boere uit die omgewing het daarna blitsvinnig reageer en hul na die toneel gehaas.

Drie van die ses werkers wat saam met die gesin aagehou is, is ernstig beseer. Hulle is herhaaldelik met ysterpype oor die kop geslaan in ‘n poging om inligting te kry en een van hulle het sy bewussyn in die kamer verloor.

“Daai werkers het hul eie lewe in gevaar gestel om ons gesin te beskerm,” sê me. Human.

Hulle is na die Groblersdal Hospitaal gehaas terwyl mnr. Van Wyk na Midmed is vir behandeling. Hy is Donderdagoggend ontslaan en was met tye van die onderhoud reeds besig om te melk.

Die polisie se forensiese eenheid was nog besig om leidrade in te samel teen druktyd.

Back to top button