EntertainmentLifestyle

VLU vroue maak ‘n verskil

So eie aan Kosmosstreek se VLU-vroue het hulle 'n groot verskil in die gemeenskap gemaak.

Die tema vanjaar is “Vroue maak ‘n verskil” en Kosmosstreek VLU voorsitter, Cindy Coetzee, het gevra dat die takke hierdie tema gestand moet doen. Die takke het nie teleurgestel nie.

• Die Arnot oggendtak het ‘n bederftee vir die inwoners van die SAVF Tehuis vir Bejaardes gehou.

• Die Banke oggendtak het sop, gebreide mussies en handskoene vir die CMR geskenk, ‘n kontanbydae vir KANSA gemaak, gemeenskapsdiens onder die plaasmense in nood gedoen en is betrokke by die Ngkule Gekombineerde Skool.

• Die Bonsoir aandtak vir jong werkende vroue is betrokke by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Middelburg.

• Die Clivia oggendtak in Kosmospark gee algemene hulpverlening in Kosmospark, ‘n aftree-oord, waar daar na bejaardes uitgereik word met verskillende aktiwiteite.

Die Hendrina oggendtak. Hier is Dane Ferreira en van haar taklede betrokke by die reël van ‘n tee vir bejaardes.

• Die Lenata oggendtak het komberse uitgedeel aan behoeftige kinders by laerskole in die Middelburg omgewing. Betsie Kruger is ook voorsitter van die SAVF se Vriende en Familiegroep.

• Die Leeuklip oggendtak het by Laerskool Uitkyk vir graad ses en sewe kinders geleer hoe om eierbroodjies te bak en ‘n skinkbord mooi te dek met die oog op ‘n bederfoggend vir Mammas. ‘n 4 x 4 dag word op 30 Augustus aangebied, waar fondse wat geïn word vir die Middelburg Hospicevereniging gegee sal word. Die tak borg ook ‘n dogtertjie se skoolfonds.

• Die Meyersbrug oggendtak is betrokke by die Middelburg Care Village en het ‘n vergadering gehou waar Annemarie Alberts die spreker was. Met haar insiggewende praatjie, “selfloosheid bring die sensitiewe sy van die vrou na vore en vroue moet hul empatie-hart gebruik om ‘n verskil aan die behoeftiges te maak”, het sy die hele tema “Vroue maak ‘n Verskil” saamgevat.

• Die Ouklip middagtak brei vir XP (Xeroderma Pigmentosum). XP is ‘n rare genetiese afwyking wat mense uiters sensitief vir die son maak. Hulle het geen weerstand nie en moet gedurig handskoene en kombersies gebruik vir hitte. Ouklip het help blokkies brei vir komberse.

Nog projekte van Ouklip was die oorhandiging van kruideniersware by Koppiestraat, aartappels vir die Bethesda Skool vir gestremdes en ‘n reuse bydrae is gemaak aan die NG Kerk Rustenburg vir die Rustenburg Noodfonds.

Baie van Ouklip se lede is verder betrokke by verskillende instansies:

Dawn van Baalen (voorsitter van die CMR se Mannaprojek)

Ria Roets (sekretaresse by Middelburg Hospice se raad) en deel van die SAVF Vriende en Familiegroep saam met Joan Anderson, asook hulpwerkers soos Mariaan Kruger, Joan Anderson en Irene Bierman.

Anphia Grobler en ander taklede is betrokke by Doornkop met die opheffing van die vrouns daar.

Annette Strydom, Elsie Versfeld, Christine Visagie en Trudie Van Zyl is betrokke by Kleuterskool Saailand van die CMR.

• Die Swartgoudtak is baie betrokke met die jong dogtersklub. Daar word verskillende vaardighede vir die dogters geleer.

Al die takke het kruideniersware en persoonlike benodigdhede bygedra en skenkings gemaak aan Middelburg CMR en die Gereformeerde Kerk .

Verder is die hele Kosmosstreek hard aan die werk vir die jaarlikse Rabbedoekamp vanaf 19-21 September. Daar word gehekel, gebrei, gewerk, ingesamel, gekoop, gebak en gebrou , ten bate van opheffing van 40 dogters, die vroue van die toekoms.

Vroue wat betrokke wil raak of aan wil sluit by enige van die takke, kan Cindy bel by 082 770 7747 of stuur ‘n epos na kosmosvlu@live.co.za

Back to top button