Kranspoort mynpraatjies skop af

Die konsultasieproses tussen belanghebbendes, en die myne wat in Kranspoort wil prospekteer, het op 7 Oktober afgeskop, met 'n vergadering in Kranspoort.

Die myngroep, Tivumben, sal onder meer soek vir platinummetale soos goud, nikkel, ystererts, chroom en kopererts delf.

Die soektog vir die edelmetale sal op porsies 2, 3, 4 en 5 van die plaas Laagersdrift 76JS fokus.

Die grond behoort aan ‘n trust sitrusboere waarmee Tivumben ook reeds in gesprek was.

Die Observer het reeds in Julie berig oor Tivumben se voorneme om in die kransryke poort te prospekteer.

Tivumben het tóé gesê dat daar geen besware ontvang is teen hul voorneme om in die poort te myn nie.

Kranspoortdorp het dit egter ontken en bevestig dat hulle vertoë teen die beplande myn gerig het.

Mnr. Dingane Majola van Tivumben is op 7 Oktober Kranspoort toe vergesel deur mnr. Sikumbuzo Nkosi van Ndlelehle Mining om met belanghebbendes soos Ramela Ranch se Jan Nieuwoudt en twee direkteure van die Kranspoort eienaarskomitee, mnre. Fonnie van Vuuren en Willie Schoeman te gesels oor hul planne.

Die myngroepe het by monde van hul verteenwoordigers onderneem om die omgewingsbestuursplan en die prospekteringskedule beskikbaar te stel vir insae.

Opvolg vergaderings sal gehou word om na die gemeenskap en ander belanghebbendes se idees en besware te luister.

Die Blue Ridge Platinummyn naby Maleoskop is in 2011 onder toesig en onderhoud gesit en groot paniek het veral in Groblersdal geheers weens die werksverliese.

Onderhandelinge met die trust wat huidiglik ‘n goeie bestaan uit sitrusboorde maak, is steeds in ‘n beginfase en boere in die omgewing wonder of beloftes van rykdom die trust sal laat afsien van sy bestaan, na Blue Ridge se operasies gestaak is.

One Comment

  1. Ag nee!!!! Hoekom daar myn? Wat gaan van daardie mooi stukkie paradys word?? Mense verderf net die aarde.

Back to top button