Mollie en Wors afgemaai
"Dit voel soos 'n familielid wat uitgemoor is. Die stropers het die nagwag gesê dat hulle die plaas al vir dae lank dophou, so buiten vir die diere wat dood is, is jou privaatheid geskend."

Werner van der Merwe van die plaas Three South, tussen Groblersdal en Marble Hall, is Saterdagoggend net na 02:00 wakker gebel en ingelig dat hul twee troetel renosters, Mollie en Wors, geskiet is.
Sewe stropers het die nagwag, wat spesiaal in diens geneem is om na die renosters te kyk, oorval. Tanzai (van onbekend) is aangerand, met ’n geweer teen die kop gedreig en later vasgebind.
Vier van die stropers het jaggewere gehad, een ’n pistool en die res pangas. Hulle het vir die wag gesê dat hulle presies weet wat op die plaas aangaan omdat hulle dit al vir ’n geruime tyd dophou. Van die mans het die wag aangehou terwyl die res die renosters gaan doodmaak en van hul horings gestroop het. Die mans het Zoeloe gepraat.
Die wag kon eers los kom om alarm maak toe die stropers met hul buit fort is.
Mollie en Wors, twee jong renosters van skaars vier jaar oud, was ’n geskenk van die Van der Merwe kinders aan hul ouers Deon en Hanlie. Deon van der Merwe is ’n bekende dokter in Middelburg.

Die diere is nou vir ’n jaar en ’n half op die plaas.
“Hulle was net vir die mooi. Ons het hulle nie gekoop om geld te maak nie. Ons het geweet dit is ’n risiko, dit is hoekom ons die wagtoring laat opsit het by hulle kamp,” sê mnr. Van der Merwe. Hy bly self ook op die plaas waar hulle met eksotiese wild en tafeldruiwe boer.
Lede van die Marble Hall Polisie was net na 03:00 op die toneel. Daar is tot op hede geen arrestasies gemaak nie.
“Ek is seker hulle is lankal oor die grens met daai horings. Die feit dat hulle Zoeloe gepraat het sê niks. En dit was nie jou gewone ou van die straat af nie. Dit was ouens wat geweet het wat hulle doen. Mens skiet nie sommer ’n renoster met een skoot dood nie,” sê mnr. Van der Merwe.
Die renosters se karkasse is op die plaas begrawe.
