Update

Opvolg: Klaer het rugoperasie ondergaan

Die Tracers Kroeg-skietery, waartydens 'n motorfietsryer, mnr. Jakes Joubert, rakelings twee kopskote vrygespring het, is op 12 November van die hofrol verwyder, weens mnr. Joubert se voortslepende afwesigheid by die hof.

Mnr. Nick (Nicolaas) van der Westhuizen, is op talle wapenverwante klagtes voor die hof gedaag, nadat hy in die middernagtelike ure van 21 Julie vanjaar, by die kroeg opgedaag, en daar ‘n onderonsie was oor motorfietsryers.

Talle skote is afgevuur, gedurende ‘n woeste gestoei.

Die hele voorval is op CCTV kameras vasgelê en wys hoe die koeëls die kroeg se dak en pleisterwerk aan die mure, aan flarde skiet.

Die saak teen Van der Westhuizen, is op Woensdag 12 November, van die rol verwyder, nadat mnr. Joubert wéér nie by die hof was nie.

Hy het egter op 4 November ‘n rugoperasie ondergaan, en is vir die volgende ses weke bedlêend, nadat hy ook in Oktober lank onaktief was weens pyn.

Mnr. Joubert het Woensdag vir die Observer gesê dat hy dit wel aan die ondersoekbeampte gesê het, maar dat dit nooit aan die hof oorgedra is nie.

Hy is dadelik deur die hof van die verwikkelinge verwittig, maar is kans gegun om skriftelik vertoeë te rig teen die besluit.

Die hof sal volgende week met mnr. Joubert se regsverteenwoordiger ontmoet om die saak te beredder.

Mnr. Joubert sê dat hy van die hof verwag om die saak weer op die rol te plaas.

“Die hof kan nie met ‘n goeie gewete, ‘n man wat bereid was om dood te skiet, bloot laat loop, en nie minstens sy wapenlisensie terugtrek nie,” sê mnr. Joubert.

Intussen het mnr. Van der Westhuizen ‘n teenklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, teen mnr. Joubert aanhangig gemaak.

Mnr. Joubert sê egter hy moés die skieter katswink slaan, en sy wapen by hom afneem, om ‘n bloedbad te voorkom.

Daar was talle ooggetuies in die kroeg ten tye van die voorval.

Back to top button