EntertainmentLifestyle

Ons eie dramakoningin

Stephanie Gericke (23), wat groot geword het in ons dorp, was al van kindsbeen af mal daaroor om stories oor te vertel en karakters na te boots.

En vandag is sy besig om ‘n kinderteater teks te skryf. Die opvoer van dié drama gaan waarskynlik volgende jaar in Middelburg op ‘n verhoog uitgevoer word.

Sy het dramaklasse geneem van haar laerskooldae af en op Laer- en Hoërskool Middelburg skoolgegaan waar sy lewenslange vriende gemaak het.

Haar oupagrootjie, mnr. Pierre Joubert, is in 1910 in die dorp gebore en hier begrawe. Die geslagte wat hierna gevolg het, het almal in Middelburg grootgeword en skoolgegaan.

Stephanie het ná skool vir vier jaar aan die Universiteit van Pretoria Drama studeer en haar honneursgraad verwerf. “Student wees verg min slaap, baie wegneemetes, dans tot die son opkom en baie, baie harde werk.”

Stephanie was reeds betrokke by die Krêkvars Kunsfees op Tukkies se gronde, die Colver Aardklop fees in Potchefstroom, asook die Woordfees in Stellenbosch. “Die feeste waarby ek betrokke was, het my as akteur baie geleer en dit was ‘n ongelooflike ervaring. Ek dink ‘n professionele fees maak jou as akteur sterker en skerper.”

Stephanie is by Krêkvars Kunsfees genomineer as die beste aktrise. Sy het ook ‘n teks vir haar honneursgraad geskryf en geredigeer genaamd, “Lop Lop”, wat genomineer is as een van die beste produksies. By die US Woordfees het sy die trofee ontvang vir “Uitskieter” vir haar spel in “Melusine van Arcadia”.

Sy beoog om nog vele teaterstukke op die planke te sit, meer ondervinding op te doen en haar maatskappy te laat groei. Sy beoog ook om volgende jaar meer te leer in die televisie- en rolprentindustrie.

• Stephanie is die dogter van die bekende sportsielkundige, Henning Gericke.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button