Dokter het al met gereg gebots

Dr. Alan Kok het al met die gereg gebots.

Daar was sedert 2009 al verskeie klagtes teen dokter Kok aanhangig gemaak, van onder andere aanranding en intimidasie, maar in al die gevalle is die sake teruggetrek.

Hy is in Maart 2008 skuldig bevind aan roekeloos nalatige bestuur en ‘n boete van R300 opgelê.

Gedurende Augustus 2010 is dr. Kok skuldig bevind aan minagting van die hof en ses maande tronkstraf opgelê wat opgeskort is vir ‘n jaar.

• Een van die persone wat jare gelede ‘n klagte van aanranding teen dr. Kok aanhangig gemaak en teruggetrek het, het aan die Observer gesê “dat hy geen beheer oor sy aggressie het nie.” (Die persoon wil nie geïdentifiseer word nie, aangesien die dokter hulle ken).

Hulle het later die klagte teruggetrek, omdat hulle nie kans gesien het vir ‘n uitgerekte hofsaak nie.

• Nog een van die destydse klaers sê hulle het dr. Kok baie goed geken en hom opgesom as ‘n “baie aangename man.”

Daar het egter ‘n geveg uitgebreek tussen die twee mans “en ons was geskok oor hoe kwaad hy kan word. Alan is ‘n fantastiese dokter en ‘n goeie ou, maar hy raak soos ‘n wilde ding as hy kwaad is.” In dié geval het hulle ook die saak teruggetrek om hul gesin en familie “al die drama in die hof te spaar.”

• Die man wat ‘n onderhoud met die Observer toegestaan het omdat “die dokter ook ‘n verhouding met my vrou gehad het,” het ‘n klagte van intimidasie by die eMalahleni polisie aanhangig gemaak in Junie 2012.

Volgens hom het dr. Kok ook gedreig dat hy hom gaan doodmaak, nadat die man uitgevind het dat dr. Kok saam met sy vrou by ‘n Roxette konsert is.

Hy het later die saak teruggetrek op aandrang van sy gesin.

• Nie dr. Kok óf mnr. Liam Niemandt het tot op hede enige klagtes aanhangig gemaak na die voorval op 23 Januarie 2015 waar dr. Kok met ‘n mes gesteek is nie.

Opvolg: Dokter begin geveg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button