(Nie vir sensitiewe oë) – Polisieman gewond in rooftog
Twee verdagtes is dood, en 'n polisieman gewond, na 'n gewaagde rooftog tussen Groblersdal en Marble Hall op die Swartkoppad.

Volgens kol.Ronel Otto, provinsiale woordvoerder, het lede van ‘n sigaretmaatskappy Woensdag omstreeks 15:30 Woensdag by ‘n stopteken by die T-aansluiting van Leeufontein en Swartkop gestop toe vyf verdagtes hul voorkeer en oorval.
Skote is op die sekuriteitsvoertuig en lede van die sekuriteitsmaatskappy gevuur, wat die sigaretmaatskappy se afleweringsvoertuig begelei het.
(Die sekuriteitsmaats- en sigaretmaatskappy se name word weerhou weens veiligheidsdoeleindes omdat die verdagtes steeds op vrye voet is.)
Lede van die sekuriteitsmaatskappy het teruggeskiet op die verdagtes.
Een verdagte is in die kop gewond.

Volgens mnr. Johan Scholtz, ‘n ooggetuie, was hy en sy kollega, Ian Mortelbrink, oppad huis toe van die werk af toe hy by die T-aansluiting stop en ‘n lid van die sekuriteitsmaatskappy op hom skree om die polisie te skakel.
“Ek het onmiddellik die polisie probeer skakel, maar kon nie deurkom op die 10111 nommer nie, ek het gesien hoe ‘n polisieman ‘n verdagte, wat die toneel probeer vlug het, in sy voertuig agtervolg.
Die lid van die sekuriteitsmaatskappy het agter op my bakkie gespring en my beveel om die polisieman agterna te sit, sodat hy bystand kan lewer,” sê mnr. Scholtz.
Drie ander verdagtes het daarin geslaag om van die toneel te vlug in die sigaretmaatskappy se voertuig en ‘n Ford Ranger bakkie.
Volgens kol. Otto, het die polisieman van die plaaslike kriminele rekordsentrum in Groblersdal (sy naam word weerhou omdat die verdagtes steeds op vrye voet is en moontlik uit weerwraak kan optree), verby gery en gesien wat op die toneel gebeur het. Hy het opgemerk dat ‘n verdagte vanaf die toneel vlug en hom agternagesit.

“Ons het gesien hoe die polisieman by sy voertuig uitklim en die verdagte probeer vastrek, die verdagte het op hom gevuur en hom gewond. Die lid van die sekuriteitsmaatskappy het verder op die verdagte gevuur. Die verdagte is raakgeskiet en is op die toneel dood,” het mnr. Scholtz verder gemeld.
“Ek het dadelik na die polisieman gehardloop en hom teen die voertuig laat rus, en my hemp uitgetrek om die bloeding te stop.”
Life 24 Ambulansdienste is na die toneel.
“Die polisieman is in die buik gewond en het ons hom na Life Midmed Hospitaal vervoer. Ons het met erge bloeding gesukkel in die ambulans oppad na die hospitaal,” het Mercia Gouws (van Life 24) aan die Daller genoem.
Die verdagte wat in die kop gewond is, is na die Polokwane Provinsiale Hospitaal geneem. Die Daller is Donderdagoggend in kennis gestel dat hy aan sy skietwond beswyk het.

Die sigaretmaatskappy se voertuig is in Masakaneng naby Groblersdal gevind.
Volgens kol. Otto is daar nog nie bevestig wat alles uit die voertuig gesteel is nie en is die polisie nog besig met die ondersoek.
• Daar is intussen ‘n grootskaalse soektog na die oorblywende rowers.
• Die polisieman wat gedurende hierdie voorval gewond is, was oppad na ‘n ander toneel waar twee kinders met vuurwapens gedreig is in Groblersdal. Lees meer hieroor in dié uitgawe van die Dal
