Update

Opvolg: Inspirerende verhaal gryp wêreld aan

Monique Germishuizen, wat lank 'n dodelike stryd teen heroïenverslawing gevoer het, se storie het wêreldwyd opspraak gemaak.

Op haar Facebookblad alleen het haar verhaal meer as 4000 “Likes” gekry, en die storie is 255 keer gedeel.

Die Middelburg Observer het vandat Monique se storie aanlyn geplaas is, derduisende oë na www.mobserver.co.za gelok.

Die Observer het op sy Facebookblad en groep ‘n verbysterende 17974 lesers gehad wat Monique se inspirerende verhaal gelees het die dag toe dit geplaas is.

Op die www.mobserver.co.za webwerf het altesaam 20310 lesers gaan lees die dag wat die storie op die webblad geplaas is op 13 Februarie.

Teen 18 Februarie het 84159 mense wêreldwyd, reeds die Observer webwerf besoek.

‘n Leser wat diep geraak is deur Monique se verhaal, die skrywer Hendrik Duvenhage, het die storie op sy Facebookmuur geplaas waar dit 240 keer gedeel is en kommentaar van letterlik honderde mense landwyd ontlok het.

Monique sê talle radiostasies en polisiestasies regdeur die provinsie het haar gebel om praatjies op die lug en by skole te lewer.

Ermelo polisie wil hê Monique moet by beide die hoër en laerskole gaan praat oor dwelms, en die hopelose gevolg van misbruik.

Noise Makers Ministries, wat in kroeë bymekaar kom om die evangelie te versprei, het Monique ook versoek om hande met hulle te vat en getuienis te lewer by hul samekomste.

‘n Agent vir bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars het aangebied om Monique te help, sodat sy haar kan kwalifiseer as motiveringspreker, om die dwelmdeurweekte land op sy kop te draai.

Maar die belangrikste vir Monique is die honderde oproepe van ouers van Polokwane tot die Wes-Kaap, wat vra vir hulp en advies om hul eie familielede skoon te kry.

Dwelmafhanklikheid is ‘n alleenpad, en soos enige ander verslawing, moet die verslaafde self besluit genoeg is genoeg.

Net 2% van heroïenverslaafdes oorwin die draak.

“Alle kommentaar is positief, dis ongelooflik, behalwe nou vir die hartseer ouers wat my geluk wens, maar self die pad met dwelmafhanklike kinders en familielede moet stap, vir hulle het ek die wêreld se empatie,” sê Monique.

“Deure gaan oral net oop vir my, en ek weet die Here wil my gebruik as Sy instrument om die boodskap wyer uit te dra,” glo sy.

“Ek dank God, en my pragtige dogter Tanisha, want hulle was die rede vir my ommekeer.

Sy betuig ook haar dank teenoor die FRC Nigel rehabilitasiekliniek, die Oorwinnaars wat haar daagliks dra, Die Middelburg Observer vir sy hand in die stryd teen dwelms, maar in besonder vir ds. Francois Kruger, van die Gereformeerde Kerk wat haar lewe gered het die dag toe Monique dit wou neem.

“Vir almal in die strate van ons dorp, wat waai, en toet, en groet en bid vir my, baie dankie!” – “Hou asseblief aan bid vir al die verslaafdes daar buite, en deel gerus my storie soveel moontlik, dat die skille van my broers en susters se oë sal afval, blessings vir julle almal!”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button