Fokus kyk dalk na verval
Die SABC3 Fokusspan het gebyt aan die Botshabelo erfenisskandaal, en sou die stasie se redakteurs instem, sal die Fokusspan einde Maart by die hekke van die Plek van Toevlug inry.

Fokus is deur die nuusveteraan, Harald Pakendorf – oud joernalis, redakteur en huidige politieke kommentator, wat op Botshabelo gebore is – genader om ondersoek in te stel na die voortslepende verval van die wêreldberoemde erfenisgebied.
Die Pakendorf huis is onder meer na sy voorsate vernoem.
Die sendingstasie, wat as selfonderhoudende dorp, onafhanklik van Middelburg, gefunksioneer het, is in 2005 aan sowat 1000 grondeisers oorhandig na ‘n grondeis in 1993 ingestel is.
Ofskoon die erfenis en reservaat tot oorname in 2005 as Middelburg se grootste toeriste aantreklikheid bestuur is, is dit nou vervalle.
Video: Botshabelo – spookdorp van verval
Oornagfasiliteite val uit mekaar en selfs die kerk, die eerste in die destydse Transvaal, se mure kraak en verskilfer en water lê plek-plek opgedam waar die dak lank reeds lek.
Die munisipaliteit het Botshabelo in die laat 70’s by die Duitse Sendinggenootskap oorgekoop vir R190 000.
Naas die huise wat beskikbaar gestel is vir toeriste, is ‘n hostel vir groepe soos skool-kinders ingerig, ‘n restaurant is gevestig, en die kerk is vir troues en spesiale dienste oopgestel.
Dit het die stadsraad minstens R1,2 miljoen per jaar gekos om Botshabelo te onderhou.
Sedert oorname is Botshabelo ‘n spookdorp waar selfs die wêreldberoemde Ndebele vroue onlangs weggetrek het, omdat toeriste dit nou vermy.
Die Ndebele stat kan kwalik nog bereik word weens die toestand van die pad aan weerskante van die laagwaterbrug.
Die gedienste kampterrein het jare laas ‘n karavaan gesien en die wild wat daar was, is feitlik tot niet gestroop, terwyl die wildsheinings lankal plat lê.
Mnr. Pakendorf het met Botshabelo se 150-jaar bestaan twee weke gelede, opnuut betrokke geraak by die oorlog tot die behoud van die erfenis.
Met sy nou bande met die Erfenisstigting is vergaderings met die SA Erfenisse Hulpbronagentskap (SAEHA) gereël maar sê die stigting, “die hoof van die bewaringsafdeling, mnr Dumisan Sibiya is ontwykend en gesagloos”.
Sedert oorname het die eisers ook teen mekaar gedraai en twee faksies, dié wat daar wil gaan plak om die munisipaliteit te dwing om met dorpstigting te begin, en dié wat daarteen gekant is, is in ‘n stryd gewikkel.
Die DA is op nasionale vlak ook deeglik bewus van die agteruitgang, maar opdragte word bloot provinsie toe gedelegeer, sonder enige druk in die parlementêre gange.
Selfs druk van die Mpumalanga Historiese Belangegroep val op dowe ore en die eisers weier om in vernootskap met ontwikkelaars te tree uit vrees dat hulle die minste voordeel daaruit sal trek.