Video: Verskeie brandweerwaens help
"Daardie asetileen bottels word projektiele! Dit is bomme en ek dink nie mense het die gevaar besef nie!" So sê mnr. Johan du Toit Maandagoggend.

Hy het saam met die brandweerspan van Columbus na die huisbrand in Bloedrivierstraat gejaag.
“Mense het ons gebel en gesê die munisipale brandweer kry nie die brand onder beheer nie. Toe ons daar kom, het die brandweer nie meer water in hul waens gehad nie en hulle het vanaf ons 2 000 liter tenk af na hul waens gepomp.”
Mnr. Du Toit sê toe hulle besef daar is nie water in die brandkrane nie, het die wa van Columbus, wat later ook leeg gepomp is, gejaag om water te kry.
Toe hulle glad nie in die omgewing geholpe kon raak nie, het die wa teruggejaag na Columbus om weer water te gaan haal.
‘n Groot watertenk van die stadsraad het later opgedaag en ‘n brandweerwa vanaf eMalahleni het ook later hulp met die brand kom verleen.
Buiten die olie van die brandende transformators wat gifgasse veroorsaak het, het die asetileen- en suurstofbottels, volgens mnr. Du Toit, ernstige gevaar ingehou.
“Die polisie moes die area afgesper het. Niemand het beheer gevat nie. Die brandweermanne wat teen die brand gestry het, kon tog nie die beheer neem vir die ander mense se veiligheid nie!”
Hy is van mening dat die brand ontstaan het omdat een van die transformators met ‘n gasvlam gesny is en die olie vlamgevat het. Daar is egter op die toneel gesê dat niemand tuis was in die tyd wat die brand uitgebreek het nie.
Buiten die transformators en gasbottels, was daar ook groot hoeveelhede koperdrade wat se omhulsels afgebrand het.
• Die Observer het Maandagoggend verneem dat die eienaar van die huis (teen druktyd het ons nog nie sy besonderhede gehad het) aan brandweerpersoneel vertel het dat hy ‘n besigheid het in die industriële gebied, maar dat sy kabels en ander toerusting gereeld gesteel word. Ditis hoekom hy dit na sy huis geskuif het.
• Fofo Sekuriteit bewaak tans die huis, aangesien verskeie mense probeer het om by die huis in te gaan en die struktuur baie gevaarlik is weens die skade van die brand.













