Trol aan’t lol op Gumtree

’n Vrou op soek na werk was die slagoffer van ’n katoolse internet trol met ’n af broek.

Me. Demi Spires het summier haar profiel van Gumtree verwyder, nadat die man – genaamd Justin – haar bruggie aanlyn verbrand het.

Me. Spires, wat getroud is met twee kinders, was maar te bly toe Justin haar uit die bloute inboks met ’n werksaanbod.

“Hi, ek het jou advertensie op Gumtree gesien,” was Justin se aas, gevolg deur, “ek het gewonder of jy belangstel om vir my te kom werk by my huis, net om pret te hê wanneer ek tuis is, ons kan oor die salaris onderhandel”.

Me. Spires het nie die pret deel lekker verstaan nie en gevra vir ’n nadere werksbeskrywing, maar niks kon haar voorberei vir wat kom nie.

“Basies net om na die huis om te sien as ek werk, en as ek tuiskom een uur van masturbasie en orale seks,” het Justin geantwoord.
“Ekskuus my!?” was haar reaksie.

“Ek sal jou betaal om een uur per dag by my te sit, dan kyk ons TV en jy gee my ’n orgasme. Ek sal jou betaal,” het Justin gehoop. Hy verduidelik in detail wat sy kan gebruik om dit reg te kry.

“Ek is nie ’n prostituut nie. Ek is ’n getroude vrou met twee kinders wat op soek is na ’n regte werk, by ’n regte maatskappy,” het me. Spires haar trots verdedig.

Dan laat Justin haar weet presies waar Dawid die wortel begrawe het, met sy verduideliking hy’s loslopend en te bang om prostitute op te tel weens Vigs, daarom het hy ’n Zimbabwiese vrou in diens geneem, maar dié is gedeporteer en nou soek hy ’n nuwe “bediende” wat meer as net afstof en stryk, of eerder…ander goed afstof en stryk.

“Laat weet my as jy iemand het wat belangstel,” gooi hy so terloops by.

“Dis walglik!” het me. Spires hom toegesnou en die gesprek beëindig, deur hom by die Gumtree administrateurs te rapporteer.

Justin het verskeie maal die week sy foon, stert tussen die bene, geantwoord.

“Ek is jammer! Dit sal nie weer gebeur nie,” het hy by die Observer gepleit.

Hy sê hy’s ’n skoolseun van Zeerust en dat hy net wou “kattekwaad aanjaag”.

“Ek het dadelik vir die vrou gesê ek’s jammer en haar nommer uitgewis,” beweer die jongeling met die Kaapse aksent.

Hy sê hy het “kaal amateur mans” ge-Google en so op die naakte selfie wat hy vir me. Spires gestuur het, afgekom.

Sy hormoontelling het sy intelligensie so effens oorskry en hy het eers na die voorval besef sy selnommer is nie geheim nie.

“Asseblief vergewe my, nooit, ooit weer nie,” het hy geween.

“Ek wil maar net die dames waarsku,” sê me. Spires oor die lollende trolle aanlyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button