Video: Rowers slaan joggie oor kop

Rowers het 'n joggie Dinsdagaand aanmekaar oor die kop geslaan en later twee gate in 'n kluis geskiet by Hassens Fuel Services.

Mnr. Hennie Joubert, bestuurder van Hassens Fuel Services, is Dinsdagaand omstreeks 21:45 gebel met die nuus dat die vulstasie beroof is.

Omdat hy bang was dat die rowers nog by die vulstasie kan wees, het mnr. Joubert en sy vrou, Riana, na die polisiestasie gejaag en gevra dat hulle saam na die vulstasie gaan. Met hul aankoms was daar egter reeds polisie- en radiogroeplede, aangesien hulle ook per radio vir hulp gevra het.

Me. Joubert het Donderdagoggend die videomateriaal aan die Observer beskikbaar gestel, waar die rooftog duidelik gesien kan word.

“Hulle het die rekenaar se drade uitgetrek en gedink hulle onkoppel die CCTV-kameras, maar die kameras werk op ‘n ander stelsel en het alles afgeneem. “Alles was binne vier minute verby!”

Een van die rowers het omstreeks 21:30 by die geriefswinkel ingestap en gemaak asof hy iets wil koop.

Minute later het sy makkers toegeslaan op twee joggies, Tulani Mtsweni en Nkosi Masuku, en met pistole teen hul koppe, die twee joggies by die deur ingesleep. Die joggies is aangesê om op die grond te lê, anders gaan hulle geskiet word. Hulle het ook voor die joggies die wapens gespan.

Die groep het hulle hierna toegespits op die kassier, mnr. Sifiso Sibanyoni. Me. Joubert sê mnr. Sibanyoni het later aan hulle vertel dat die rowers aanmekaar gevra het vir die kluis se sleutel.

Op die videomateriaal kan gesien word hoe die een rower mnr. Sibanyoni aanmekaar oor die kop en rug met die pistool slaan, as hy vir hulle sê hy het nie die kluis se sleutel nie. Hulle het hom later gedwing om op die grond te gaan sit, die sigaretrak leeg te maak en in ‘n sak vir hulle te gooi.

Toe die rowers besef hulle gaan nie die kluis oopkry nie, het een van hulle twee skote op die kluis geskiet. Een op die kluis self en ‘n ander skoot in die slot in. Die slot het egter nie oopgegaan nie (die projektiel is steeds in die slot).

Hierna het die drie die kasregister, waarin daar sowat R1 500 was, leeg gemaak, die joggies en kassier se selfone en beursies gevat en gevlug.

Omdat die telefoondrade ook uitgeruk was, het mnr. Mtsweni ‘n prostituut, wat verby die vulstasie geloop het, gestop en met haar selfoon mnr. Joubert gekontak.

• Me. Joubert was vol lof vir die optrede van die polisie. “Die forensiese span was tot Woensdag 02:00 op die perseel besig met hul ondersoek!”

• Die video van die rooftog kan gesien word op die Observer se webtuiste by www.mobserver.co.za (Robbery at Hassens Fuel Services).

Back to top button