Vrou veg om lewe

'n Vrou veg vir haar lewe in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal, na 'n ongeluk Sondagmiddag op die N4, naby die Arnot-afrit.

Me. Christelle Lubbe (30) het erge breinbeserings opgedoen in die ongeluk, wat kort voor 15:00 plaasgevind het.

Die Lubbe-egpaar, Jaco en Christelle, hul 16 maande oue baba, Jano, asook me. Lubbe se ouers, Chris en Jacky van der Burg, was vanaf Pretoria na Hazyview onderweg tot die ongeluk gebeur het.

Mnr. Lubbe het ná die ongeluk gesê dat ‘n voertuig reg van voor in die aankomende verkeer op hulle afgekom het.

Om ‘n ongeluk te vermy, het hy na links uitgeswaai. Die voertuig het vir nog sowat 100m op sy wiele gebly, waarna dit begin rol het. Met die eerste omrolslag is Jano uit die voertuig geslinger. Toe die voertuig die tweede keer rol, is me. Lubbe uitgeslinger.

Die hele gesin is in die hospitaal opgeneem, maar mnr. en me. Van der Burg en klein Jano is Maandagoggend ontslaan.

Klein Jano Lubbe (16 maande) is ook uit die voertuig geslinger, maar het net ligte beserings opgedoen.
Klein Jano Lubbe (16 maande) is ook uit die voertuig geslinger, maar het net ligte beserings opgedoen.

Mnr. Lubbe was nog in ‘n gewone saal teen druktyd en me. Lubbe word in die intensiewe eenheid behandel.

• Familie en vriende is steeds erg geskok oor die gebeure enhet gesê dit is “hartseer dat ‘n familie vir die tweede keer deur so ‘n erge trauma moet gaan.”

Mnr. Lubbe se eerste, vrou, Siska, is in Januarie 2010, sowat drie weke na die geboorte van hul tweede seuntjie, Dian, oorlede. Siska was die dogter van dr. en me. Leon (bekende veearts) en Riëtte Connoway.

• Dr. Connoway was net so geskok oor die ongeluk. Die Connoway-egpaar pendel ten minste een keer per maand na Hazyview om by die Lubbe-egpaar en hul kleinkinders, Luan (8) en Dian, te gaan kuier.

• Die twee oudste seuns het by hul ander grootouers in Hazyview gebly die naweek toe hul ouers en grootouers na ‘n troue in Pretoria toe is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button