(Opvolg) Video: Renosters het nog geleef!
Renosterstropers het waarskynlik helder oordag ’n dragtige renosterkoei en haar kalf geskiet, aangesien die koeëlwonde op presies dieselfde plek in hul longe deur is.

Me. Susan Cornelius (van uBhetyan-o-Africa Wildsplaas) het hartseer gesê dat die koei waarskynlik nog geleef het toe hulle haar horing afgekap het, aangesien daar ’n groot panga kapmerk op haar rug was. “Hulle slaan die renoster agter op die kruis dat hulle moet val.
Die koei en haar kalf het albei moontlik nog geleef, want daar is soveel bloed. Die horings is nie mooi afgehaal nie, dis uitgekap!” Die diere se sterte is ook afgekap.
(Grafiese foto’s) Nuusflits: Twee renosters afgemaai
Die dooie renosters is Dinsdag gevind, nadat die diere sedert Sondag nie gesien is nie en die hulp van ’n mikroligte vliegtuig ingespan moes word.
Kort nadat die karkasse van die koei en kalf gekry is, het hulle die renosterbul opgemerk. Hy is in die kop gekwes.
Dr. Peter Caldwill (’n veearts van Pretoria) het Dinsdagmiddag na uBhetyan-o-Africa gekom, waartydens hulle die renoster verdoof en sy horing verwyder het.

Die wond in sy kop is ook behandel. Die plan is dat die veearts Donderdagoggend weer die bul sal verdoof om te kyk hoe die wond lyk en of hy dan moontlik die projektiel sal kan verwyder.
Sy het snikkend gesê dat die renosters mense gewoond was en waarskynlik nie vir die stropers weggehardloop het nie.
“Die renosterkoei het al deur soveel hel gegaan. Sy het al geabborteer en ons moes haar later verdoof om haar bulkalfie te verwyder, want twee renosterbulle op die plaas sou nie werk nie.

“Toe sy haar horing beseer het, het sy by die lodge kom hulp vra. Toe die horing later afgeval het, het sy wéér kom vra vir hulp. En nou is sy so wreed doodgemaak!”
Me. Cornelius sê die koei en haar kalf het sáám op die plaas aangekom en was van die begin af onafskeidbaar. Selfs toe sy weer ’n bulkalfie gehad het, was hierdie kalf nie baie ver nie en toe die ander kalfie weggevat was, was sy weer langs die koei se sy.
Sedert hulle die ontdekking gedoen het, heers daar ’n morbiede atmosfeer op die plaas. “Dit is asof daar ’n wolk oor die plaas hang.”
Hulle het letterlik al honderde boodskappe per sms, WhatsApp en Facebook ontvang. “Die mense sê dit voel vir hulle asof daar iemand in hul families dood is, hulle wil nie weet hoe voel óns nie!”
• ’n Nadoodse ondersoek sal Donderdagoggend gedoen word. Op dieselfde dag sal die twee ander oorlewende renosters onthoring word. Dit is duidelik gestel dat al die horings van die plaas af verwyder word.
• Enige persoon wat moontlik inligting het oor die gebeure, kan mnr. Cornelius bel by 083 379 5719 of me. Cornelius by 082 921 3995.
