Stiaan se Sonde
Almal ken vir Stiaan. Stiaan wat sing, Stiaan wat so goed kitaar speel, stoute Stiaan.
Die amper 500 mense wat sy albumvrystelling die afgelope naweek by Riverside bygewoon het, ken nou vir Stiaan Reynierse ordentlik. Hulle het vir Stiaan wat hoendervleis gee, Stiaan wat nog groot dinge gaan bereik, Stiaan die kunstenaar ontmoet.
Middelburg se stout seun, wat vroeër jare aanhangers in kroeë en by partytjies met sy rasperstem vermaak het, het groot geword. Hy het soos ‘n goeie rooiwyn, ontwikkel in ‘n kunstenaar met die wêreld aan sy voete. En hy het dit alles saam gevat in sy CD genaamd “Sonde”, waarvan die titelsnit reeds op KykNet musiek op DSTV uitgesaai word.
As Dozi deur ry Middelburg toe om jou album se bekendstelling te kom bywoon en as jy ‘n liedjie saam met Afrikaanse musiek legende Richard van der Westhuizen op jou album kan opneem, dan weet jy hier is iets groots aan die gebeur.
Maar groter as bekende name wat van hom kennis neem, is die bewondering wat Stiaan onder Middelburgers ontlok. As hy sing, swel die harte. Mens kan nie help om trots te wees nie, so al asof dit jou eie broer, seun of beste vriend is wat daar staan en sing.
Reaksie op die naweek se konserte was oorweldigend.
Op Stiaan se Facebookblad skryf Peter Coskey “Dankie, Stiaan, jy en jou band het nou gemaak dat die Engelsman Afrikaanse musiek sommer kwaai laaik.”
Malan van der Walt skryf “Stiaan Reynierse – A legend in the making”
Plaaslike raadslid Ena Calitz Pillodia skryf “Lekker Stiaan, trots op jou. Geweet jy kan!”
Sondagmiddag skryf Stiaan “My asem is weg en my hart blom… dankie Middelburg, dit was goed.”
